7 dae gelede
Warrick het Gelant
Warrick Gelant  ~ Gallo Images

WARRICK “Boogie” Gelant beoog om sy spel by die Stormers na nuwe hoogtes te vat.

Die Stormers het gister amptelik in ’n verklaring bevestig die Springbok-heelagter van die Bulls het ’n kontrak met die Kaapse franchise gesluit.

Die talentvolle heelagter het gister sy 25ste verjaardag gevier. Hy was laas jaar ’n lid van die Springbok-groep wat die World Cup in Japan gewen het.

Die boorling van Knysna sê hy sien uit daarna om met sy nuwe spanmaats te skakel en ’n opwindende nuwe fase in sy loopbaan te begin.

Verruil

“Ek kan nie wag om my by die Stormers aan te sluit nie. Ek is baie opgewonde oor wat die toekoms inhou,” sê hy.

“Ek wil my spel na nuwe hoogtes neem. Ek is vol vertroue dat ek my doelwit sal bereik met die samewerking van die spelers en afrigters by die Stormers.”

Gelant se besluit om die Bulls vir die Stormers te verruil kom op ’n gepaste tyd vir die Kaapse franchise.

John Dobson (afrigter) se span het laas week die dienste van die opwindende heelagter Dillyn Leyds verloor. Hy gaan sy loopbaan by La Rochelle in Frankryk voortsit.

Gelant word as die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby in die laaste vesting beskou.

Sedert 2016 het hy in 46 games vir die Bulls uitgedraf. Hy het tot dusver nege toetse vir die Bokke gespeel.

Die Pretorianers het laas week aangekondig hulle gaan die heelagter Gio Aplon (37) kontrakteer. Jake White, nuwe direkteur van rugby by die span van Pretoria, het gesê Gelant is steeds deel van sy planne.

Hupstoot

Die oudleerder van die Hoërskool Outeniqua in George het egter besluit om sy loopbaan voort te sit by ’n span gelaai met opwindende agterspelers, onder andere Herschel Jantjies, Damian Willemse, Seabelo Senatla en Sergeal Petersen.

Dobson dink Gelant se koms is ’n groot hupstoot vir sy Stormer-span.

“Warrick het hom gevestig as een van die mees dinamiese agterlynspelers in Suid-Afrika, so ons kon nie meer opgewonde wees om hom op ons boeke te hê nie.

“Met die vertrek van Dillyn Leyds kon ons nie iemand beter vra om die nr. 15-trui te dra nie.

“Ek is seker dat sy teenwoordigheid ’n baie positiewe invloed op die spelers rondom hom sal hê.

“Ons sien ook daarna uit om Damian Willemse die geleentheid te gee om voortaan net op losskakel te fokus.

“Warrick sal vir die opposisie op die aanval ’n groot bedreiging inhou en die laaste vesting verdedig.

“Warrick is ’n dodelike finish­er met ’n wonderlike gevoel vir die spel en ’n bewustheid­ van ruimte.

“Dis net wat ons benodig dat die talent wat ons in die agterlyn het, kan floreer,” het die Stormers se breier bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters