10 dae gelede
Warme wings
cheslin kolbe Foto’s: getty images  ~ 

MAKAZOLE Mapimpi en Cheslin Kolbe teen George Bridge en Sevu Reece.

Vir die voormalige Springbok-vleuel Breyton Paulse is dít die groot tweestryd waarna hy uitsien op Saterdag 21 September. Die Springbokke en All Blacks pak mekaar op dié dag in ’n World Cup-wedstryd in Yokohama.

Volgens Paulse het die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, laas week teen Japan hulle hand reeds gespeel oor hoe die beginspan vir die game teen die wêreldkampioen gaan lyk.

En die vleuels sal natuurlik die kombinasie van Mapimpi en Kolbe bly.

Volgens Paulse, deesdae ’n gesoute rugby-ontleder vir SuperSport, is dit ’n jammerte vir iemand soos S’bu Nkosi, wat ook vanjaar op die regtervleuel uitgeblink het.

“Ek dink nie Rassie (Erasmus) gaan nou aan sy agterste driehoek torring nie. Cheslin (regtervleuel) en Makazole (linkervleuel) het hulself reeds bewys.

“Maar met ’n ou soos S’bu weet hulle dat daar nou cover is, as iets sou gebeur. Daar gaan wedstryde wees waar S’bu sy kans gaan kry om te speel,” verduidelik Paulse.

Dié boorling van die Koue Bokkeveld sê hy hoop van harte dat Steve Hansen (All Black-afrigter) ook by sy nuwe gesoute vleuelkom­binasie van Bridge (linker-) en Reece (regtervleuel) sal hou.

Paulse glo Hansen sal ’n groot fout begaan deur Ben Smith op een van die vleuels teen die Bokke te kies.

“Ben Smith is nie ’n vleuel nie en ek sê dit al jare,” meen Paulse. “Hy moet heelagter speel. Daarom dink ek Hansen moet die nuwe opwindende manne kies.”

sevu reece

Volgens Paulse is die Bokke vanjaar vlymskerp en is die goeie spangees dui­delik sigbaar.

McNeil Hendricks, ook ’n voormalige Springbok-vleuel, stem saam met Paulse hieroor.

“Rassie Erasmus se Bokke is op die regte pad,” het Hendricks gesê.

“Ons boys lyk goed voorbereid en ek sien uit na ons ontmoeting met veral die All Blacks.”

Volgens die 46-jarige boorling van Malmesbury verdien Erasmus ’n pluimpie vir die Bokke se onlangse ommeswaai.

“Daar is beslis ’n verandering in spelpatroon en hulle lyk weer na ’n span wat aanspraakmakers is vir die World Cup.”

Maar, maan Mackie, nie alles is maanskyn en rose nie.

“Ek is bekommerd oor ons verdediging. Ons het Vrydag teen Japan redelik goed verdedig, maar in die laaste tien of so minute het hulle by tye maklik ons verdedigingslinie gebreek. So, dít is ’n effense bekommernis vir my.

“Ek dink ons is tans ’n goed gebalanseerde span wat goed gebrei word.

“Ek is nie juis iemand wat voor die tyd praat of permutasies wil uitlê nie, maar ek glo die 80 minute op die dag sal bepaal wie aan die einde van die dag met die louere sal wegloop.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters