9 dae gelede
Wallabies het plan vir Poemas – Rennie
Dave Rennie  ~ Gallo Images

DAVE Rennie sê sy span het ’n plan om die Poemas môre in ’n Drienasies-kragmeting in Newcastle te klop.

Die Wallaby-breier is vol vertroue sy span sal nie in dieselfde strik as die All Blacks trap nie.

Argentinië het laas week ’n geskiedkundige toetssege van 25-10 oor die All Blacks behaal.

Dit was die eerste keer in 30 kragmetings dat die Suid-Amerikaners daarin kon slaag om met die Nieu-Seelanders af te reken.

Aspekte

Die Kiwi’s het ook twee weke gelede teen die Wallabies verloor.

Nadat hy tyd gehad het om laas week se game te bestudeer, het Rennie belangrike aspekte van die spel geïdentifiseer wat die Wallabies sal móét regkry as hulle die rotsvaste verdediging van die Poemas wil fnuik.

Rennie het gister met die aankondiging van sy span gesê: “Argentinië het laas week goed gedoen om die veld vol te maak en wanneer spanne die veld vul deur uit te sprei, moet jy bereid wees om deur die middel van hulle te gaan.

“Deur hulle in te trek, word daar spasie vir hulle aan die buitekant geskep.

“Ek dink die All Blacks het die hele dag deur hulle probeer gaan, maar as hulle weer na die beeldmateriaal gaan kyk, sal hulle besef dat hulle geleenthede aan die buitekant gehad het om punte aan te teken.

“Die uitdaging vir ons is om vinniger balbesit te bewerkstellig en sodoende ruimte aan die buitekant te skep,” het hy verduidelik.

Rennie was ook verbaas dat die All Blacks nie so baie teen Argentinië geskop het soos hulle gewoonlik in toetse­ doen nie.

Die Wallaby-breier het ook benadruk hulle sal hul dissipline moet behou, want die Argentynse losskakel Nicolás­ Sánchez is tans goed op dreef.

Laas week het hy ál 25 van sy span se punte teen Nieu-Seeland aangeteken.

“Ek dink die Poemas speel goed sonder die bal.

Muur

“Hulle het verlede week regtig die skopstatistieke oorheers, wat verrassend was.

“Die All Blacks het baie bal vasgehou en foute gemaak en is daarvoor gestraf.

“Ons verwag dat hulle baie na ons sal skop en dan ’n muur voor ons sal probeer kry, maar ons het ’n plan daaroor,” het hy afgesluit.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters