11 dae gelede
Wallabies glo hulle kán wen
MIN GESPIN: Die Wallabies gee nie om of dit Beauden Barrett (bo) of Richie Mo’unga is wat die All Blacks op losskakel verteenwoordig nie.  ~ Getty Images

OF BEAUDEN Barrett of Richie Mo’unga nou gekies is om Sondag die All Blacks op losskakel te verteenwoordig – die Wallabies is min gespin.

Dié buurlande kom die naweek vir ’n tweede keer in ’n ry in die Bledisloe Cup-kompetisie teen mekaar te staan.

Die eerste stryd in Wellington het met 16-16 geëindig, maar dit was ’n toets wat baie meen die Wallabies moes gewen het.

Vergesog

Nou moet die besoekers op Eden Park in Auckland, die All Blacks se tradisionele rugby­heiligdom, die bykans onmoontlike probeer doen.

Hulle het die All Blacks 34 jaar laas op Eden Park geklop, maar daar heers vir die eerste keer in baie jare ’n gevoel dat ’n Wallaby-sege nie te ver­gesog is nie.

Geoff Parling, die Wallabies se voorspeler-afrigter, het aan stuff.co.nz gesê dit maak nie saak of Barrett of Mo’unga die toutjies as spelskepper trek nie.

“Barrett ís ’n baie goeie speler, maar die ander manne in daai posisie is ook goeie spelers,” sê Parling.

“Ek sal rêrig nie so ’n groot ding daarvan maak nie. Hy vervang maar net iemand anders wat nét so goed is.

“In terme van ons voorspelers se werk om hom stil te hou, sal ons die werk voorlangs moet doen en seker maak hy kry min kwaliteit-balbesit. Dit sal baie help.”

Die All Blacks verkeer vir die eerste keer in baie jare onder groot druk kort voor ’n ontmoeting met die Wallabies.

Dis nie net omdat hulle moet vergoed vir die uitslag in Wellington nie, maar omdat daar ’n beseringskrisis in die span dreig en die afrigterskorps moet raakvat met die regte spankeuses.

Die linkervleuel George Bridge­ gaan nie Saterdag en vir die res van die jaar vir die All Blacks kan uitdraf nie. Hy het ’n borsbeenbesering in oefening opgedoen wat hom nou vir ses maande buite aksie gaan hou.

Die slot Sam Whitelock moes boonop nog toetse slaag ná ’n harde hou teen die kop om te bewys hy is gereed om in die tweede ontmoeting uit te draf.

Die All Blacks se senterpaar van Jack Goodhue en Rieko Ioane was ook kwaai teleurstellend in Wellington.

Jordie Barrett, wat volgens peil die beste heelagter in Nieu-Seeland is, is ook gekritiseer omdat hy op die regtervleuel uit posisie gelyk het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters