5 dae gelede
Vuurdoop vir 2de Liga-newbie Langebaan
DOELHOK TOE! Langebaan se DJ Diedericks dribbel die bal.  ~ Mark Ward

RAPHAEL Lawrence droom nie meer van ’n revolusie om die Weskus die tuiste van ’n Premierliga-sokkerspan te maak nie.

Lawrence, ’n sakeman van Saldanhabaai, het onlangs daad by woord gevoeg en ’n Tweede Liga- franchise bekom. Dit het die sokkerspan van Langebaan FC ’n plek in die Wes-Kaapse streekkompetisie besorg.

Nou vir die eerste keer in die geskiedenis van gegeorganiseerde sokker aan die Weskus het die streek ’n semi-professionele span.

“Ons streek verdien om in die liga verteenwoordig te wees. Dit is my droom om sokker in die streek tot die spreekwoordelike volgende vlak te neem.

“Dit gaan moeilik wees, maar ek is bereid om alles in my vermoë te doen om die span suksesvol te maak,” verduidelik Law­rence.

Die manne van die Weskus sal egter gou moet begin aanpas en punte op die telbord kry, anders kan hulle sukkel om hul status te behou.

Opgewonde

Gerald Don, president van Safa Weskus, sê hy is opgewonde oor Law-rence se nuwe planne en het hom voorspoed toegewens vir die seisoen met sy besluit om die fran­chise te bekom.

Don sê: “Dit is ’n historiese gebeurtenis.

“Daar sal egter nou net gepoog moet word om bestendigheid te bewerkstellig en ek hoop dat die span versterkings sal betrek,” sê hy.

Saterdag het die manne op die Saldanha-sportterrein met 0-3 teen FN Rangers vasgeval. Dit is hul tweede nederlaag agtereenvolgens. Dié Saterdag reis hulle na Bredasdorp, waar Police FC vir hulle op die Glaskasteel-sportterrein wag.

Die eindtelling (0-3) teen Rangers vertel egter nie die ware storie van Langebaan se veggees nie.

Die tuisspan het veral in die eerste helfte die bal goed versprei en met goeie aanvalle gekom.

Uitslae:

Afdeling A: Clarewood 4, Royal Blues 1; Mbekweni Sundowns 0, Cape Town Spurs 1; Zizwe 1, Grassy Park 0; Santos 1, Jomo Power 1.

Afdeling B: Glendene 6, Police 2; Trojan 2, Maties 1; Langebaan 0, FN Rangers 3; FC Milan 1, Ikapa 1; Glendene 2, HBUFC 2.

Bepalings:

Afdeling AVrydag (19:00): Santos t Mbekweni Sundowns; Jomo Power t Zizwe United. Saterdag: Grassy Park t Clarewood; Royal Blues t Black Cats; Cape Town Spurs t Ubuntu.

Afdeling B: Vrydag: Ikapa Sporting t Trojan; HBUFC t FC Milan. Saterdag: FN Rangers t Maties; Police t Langebaan; Glendene t Norway Park Magic.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters