12 dae gelede
Vurige SWD skrik nie vir Titans-uitdaging
HERSCHELL AMERICA  ~ _GALLO IMAGES

DIE Suidwestelike Distrikte se krieketspan, die enigste span uit Krieket Suid-Afrika (KSA) se tweede afdeling om vir die kwarteindronde van die T20-kompetisie te kwalifiseer, is slaggereed vir sy groot uitdaging wanneer hy volgende week teen die Titans te staan kom.

Garry Hampson, die afrigter van die SWD, is vol vertroue voor die kragmeting Dinsdag in Kimberley.

Hy sê: “Hoewel ons die Titans as een van die land se voorste spanne respekteer, sien ons uit na die uitdaging en ons is voorberei om hulle kop aan kop te ontmoet.

“Die spelers kry baie selfvertroue uit die feit dat ons bo in ons groep geëindig het. Ons leer uit ons foute en werk daarna om vir nóg ’n verrassing te sorg,” sê hy.

Die wedstryd begin 10:00 en sal regstreeks uitgesaai word op SuperSport (kanaal 212).

Die oorsese beroepspeler van Derbyshire Leus du Plooy, wat onlangs in The Hundred in Engeland gespeel het, het hom intussen by die span aangesluit. Du Plooy het ’n indrukwekkende professionele rekord – ’n kolfgemiddeld van 40,13 in eersterangse krieket, 58,28 in eendagkrieket A en 31,72 in 67 T20-wedstryde met ’n treftempo van 125.

Alle oë sal ook ná die groepfase van die kompetisie op die SWD se naatbouler Herschell America wees.

Hy het die verbeelding aangegryp en het oornag vir homself naam gemaak deur sewe paaltjies in drie groepwedstryde te oes.

Hy sal hoop om sy goeie peil voort te sit.

SWD: Jean du Plessis (k), Travis Acker­mann, Herschell America, Blayde Capell, Leus du Plooy, Hanno Kotze­, André Malan, Renaldo Meyer, Sintu Majiza, Pheko Mole­tsane, Onke Nyaku, Heath Richards, Ya­seen Vali, Sean White­head en Jhedli van Briesies

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters