7 dae gelede
Vrouteas beklink reeks
STAATMAKER: Die Vrouteas se skitterende snelbouler Shabnim Ismail in aksie.  ~ _GETTY IMAGES

SUID-AFRIKA se nasionale vrouekrieketspan is vinnig besig om Mzansi se geliefkoosde sportspan te word.

Die Vrouteas het hul onlangse opwaartse kurwe voortgesit deur hul ODI-reeks teen hul eweknieë van die Wes-Indiese Eilande te beklink.

Hulle loop nou met 3-0 voor in die reeks van vyf wedstryde.

Hulle het Maandagaand (SA tyd) die derde ODI oortuigend met agt paaltjies gewen danksy ’n skitterende boulvertoning, terwyl die uiters talentvolle Lizelle Lee en Laura Wolfvaardt weer hul kanonkolwe laat klap het.

Shabnim Ismail (3/31), Ayabonga­ Khaka (2/22) en Suné Luus (2/25) het die grootste skade met die bal aangerig.

Jaagtog

Dít volg nadat Dané van Niekerk die loot gewen het en die Windies ingestuur het om te kolf.

In die jaagtog het Lee (78 van 120 balle) en Wolfvaardt (52 van 68) baie verantwoordelik gekolf wat die perfekte fondament vir die besoekers gelê het.

Wolfvaardt en Luus (2) het wel hul paaltjies kort ná mekaar verloor, maar die vroue het die teiken van 158 in die 37ste boulbeurt vir die verlies van net 2 paaltjies bereik.

Die Vrouteas speel môre in die vierde ODI op die Sir Viv Richards Cricket Grounds.

PROTEAS se span:

Lizelle Lee, Laura Wolfvaardt, Suné Luus, Dané van Niekerk (kaptein), Mignon du Preez, Lara Goodall, Marizanne Kapp, Trisha Chetty, Ayabo­nga Khaka, Shabnim Ismail, Tumi Sekhukhune, Sinalo Jafta, Tazmin Brits, Nondu Shangase, Nonkululeko Mlaba, Chloe Tryon, Nadine de Klerk, Masabata Klaas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters