10 dae gelede
Vrouerugby leer by ander
lynne cantwell Foto: gallo images  ~ 

DIE Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SA Rugby) se hoëprestasiebestuurder vir vrouerugby, Lynne Cantwell, laat nie gras onder haar voete groei nie.

SA Rugby het Cantwell Donderdag onthul as nuwe grootbaas van vrouerugby – ’n splinternuwe pos.

Dit wys hoe ernstig die unie nou raak om die aansien van vrouerugby te verbeter.

Rassie Erasmus, direkteur van rugby, het Donderdag gesê vrouerugby is nou sy tweede belangrikste prioriteit. Daarom sal hy elke beskikbare avenue tot sy beskikking gebruik om vrouerugby mededingend te maak.

Een daarvan is om te gaan leer by ander vrouesportkodes wat ook op amateurvlak beoefen word en ’n mate van sukses ervaar.

Die nasionale netbalspan het in 2019 gewys hulle kan met die wêreld se bestes meeding deur speelkans vir die beste plaaslike talent in oorsese kompetisies te kry. Nuwe plaaslike netbalkompetisies vir gehaltespanne het ook gehelp om talent te ontwikkel.

Cantwell het bevestig sy het reeds met ander sportlui hieroor begin gesels. Uit ’n rugbyoogpunt wil sy dit as ’n bloudruk gebruik om vrouerugby suksesvol te maak.

“Ons het al laas jaar met van die verteenwoordigers vir netbal en hokkie gesels,” het Cantwell gesê. “Borgskappe gaan ’n groot rol speel om sodoende inkomstestrome te skep wat die spel se ontwikkeling kan ondersteun.

“Spar se borgskap van netbal is baie suksesvol. Dan kyk ons ook na oorsese kompetisies – as iets vir die toekoms – waar ’n paar vroue oorsee gaan speel, ervaring opbou en dan by hul terugkeer terugploeg in wat ons hier wil doen.”

Erasmus het op sy beurt gesê hy en die Springbok-mansafrigter, Jacques Nienaber, het ook grondwerk begin doen om vrouerugby op koers te kry.

“Ek en Jacques was reeds laas week op ’n drie uur lange telefoongesprek met die afrigter van die nasionale netbalspan waar ons idees gedeel het en kon uitvind watter slaggate daar in hul hoë­prestasie­omgewing is.

Hy voeg by: “Ons kan beslis baie van hulle leer en hulle probeer ook so bietjie van ons leer in terme van ons sukses met ons mansrugbyspanne.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters