Verlede maand
Vroue kort skaafwerk voor 2de stryd
Lara Goodall  ~ Gallo Images

DIE Vroue-Proteas het wel Woensdag in Durban hul eerste eendagwedstryd teen Pakistan gewen, maar Hilton Moreeng (afrigter) sou sedertdien hard gewerk het aan sekere aspekte van sy span se mondering.

Suid-Afrika het die eerste van drie ODI’s met drie lopies gewen om sodoende ’n 1-0-voorsprong in die reeks van drie te neem.

Hulle het gecruise toe die besoekers in hul jaagtog na 201 in ’n stadium op 137/8 teen die planke was.

Die Proteas het egter letterlik en figuurlik die bal laat val met verbroude vangkanse, slordige veldwerk en middelmatige boulwerk.

Pluspunte

Moreeng sou sekerlik gister en vandag hard aan veral hul veldwerk gewerk het, aangesien dit die grootste rede was dat Pakistan hul weg terug in die wedstryd kon oopveg.

Daar was egter ’n paar pluspunte ook. Die feit dat hulle vier van die laaste bal van Nadine de Klerk kon verdedig, is beslis een daarvan. Laura Wolvaardt (40), Lara Goodall (27), Mignon du Preez (29) en Marizanne Kapp (47) het almal goed gekolf op ’n stadige Kingsmead-kolfblad. Veral Goodall en Du Preez se treftempo was meer gepas vir toetskrieket.

Veral die Pakistani-draaiers het hulle vasgepen.

Goodall is ’n sterk onderhand-kolwer, soortgelyk aan iemand soos die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith.

Sy sal egter ’n baie beter kolwer word as sy die wegkant as ’n lopie-opsie kan beskou.

Shabnim Ismail het skitterend geboul, veldwerk gedoen en selfs met die kolf ’n belangrike 20* aangeteken.

Beïndruk

Sy is as speler van die wedstryd aangewys en sal dit môre met nog ’n stewige vertoning in die tweede ODI wil opvolg.

Nonkululeko Mlaba, die linkerdraaier wat Woensdag haar debuut gemaak het, het beïndruk met haar vlug en draai.

Môre se wedstryd begin om 10:00

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters