13 dae gelede
Vraagom: Dié is gerugte
Bertram Vraagom  ~ Verskaf

DAAR is in dié stadium geen duidelikheid daaroor of die Boland Rugbyunie (BRU) se algemene jaarvergadering, wat jaarliks vir die laaste Donderdag van Februarie geskeduleer is, gaan plaasvind nie.

Bennie van Rooi neem tans waar as president van die unie ná die ontydige afsterwe van Ivan Pekeur.

Pekeur se termyn sou in 2023 verstryk het.

Dis onduidelik of Van Rooi tot dan sal waarneem en of daar intussen weer ’n ver­kiesing gaan plaasvind.

Son het Van Rooi gister om kommentaar genader, maar het ten tyde van die skrywe van hierdie berig nog geen repliek ontvang nie.

Van Rooi het egter verlede week aan dié verslaggewer beloof om voortaan goeie betrekkinge met die media te handhaaf, so hy het heel moontlik eers advies ingewin alvorens hy reageer.

Menige kenner beskou Bertram Vraagom, ’n ge­respekteerde administrateur van die Saldanha-rugbyklub en die baasbrein agter die suksesvolle Saldanha Paasnaweek-toernooi, as die ideale kandidaat om die Boland-skip te stuur.

Dié voormalige WP Platteland-senter is egter onseker daaroor of hy weer vir die pos gaan staan.

Hy het Dinsdag aan Son gesê: “Ek is nog onseker of ek sal staan en dis ál wat ek in dié stadium rondom die kwessie kan sê.

“Een van die goed wat my die laaste ruk verskriklik gepla het, is die gerugte dat ek die kompetisie se formaat wil verander.

“Dié gerug, tesame met die een dat ons die hoofkwartier van Boland na die Weskus toe wil skuif, is van alle waarhede ontbloot.”

Indien daar binnekort ’n verkiesing plaasvind, sal Van Rooi en Vraagom waarskynlik as die sterkste kandidate beskou word om as president gekies te word.

Buiteperd

Klaas Cloete, tans ’n lid van die uitvoerende bestuur van die BRU, het ná Pekeur se sterfte vir ’n paar dae as president waargeneem. Hy word in sommige kringe ook as gepaste kandidaat beskou.

AK Warnick van Darling word as ’n buiteperd vir dié bestuursrol beskou.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters