3 maande gelede
‘Vonds' 'n Saru-held
TROTS: Randy Marinus wys ’n foto van sy voormalige Gardens-spanmaats. Heel voor en derde van links is die voormalige Springbok-afrigter, Peter de Villiers.  ~ Abrie Burger

RANDY Marinus is ongetwyfeld een van die grootse name in Suid-Afrikaanse rugby voor eenwording.

Dié Paarliet het in sy speeldae tussen 1971 en 1986 vir klubs soos Gardens en Falcons (Johannesburg) gespeel, asook spanne soos Federasie, Boland en Saru verteenwoordig. Hy word wyd en syd gereken as een van rugby se heel grotes.

Son het vandeesweek by die 63-jarige Marinus in die Paarl gaan kuier om ’n bietjie oor sy loopbaan te gesels.

Heimwee

Ons is baie warm deur Marinus en sy vrou, Juliet, ontvang en het só lekker gekuier dat die rys aangebrand het!

“Die Vonds”, soos hy vroeër in sy loopbaan bekend gestaan het, het met heimwee van sy kinderdae gepraat.

“Ek is in 1956 gebore. Ons het in Dwarsstraat in die Onder-Paarl gebly voor ons later in Amstelhof gesettle het.

“Ons is nege kinders en my ma het vir ons hemde by Van Zyl Sports gekoop ‘want dit was goeie kwaliteit’ en wanneer dit te klein raak, dan kry die jonger een die hemp. My ma het ook vir ons by Pep klere gelay-buy,” onthou hy.

Sy pa het gesterf toe hy 11 was en hy het as 15 jarige besluit om sy ma te help deur die skool te verlaat om in Johannesburg te gaan werk.

“Ek het voor ek vertrek het, by Gardens in die Paarl aangesluit en derde span vir hulle gespeel. By Falcons het ek een game second team gespeel voordat ek opgetrek is first team toe. Daar het ek teen manne soos Tubby en Mark Alexander (vandag Saru-president) gespeel, maar vir hulle het ons sommer lekker opgekap,” spog hy.

Hy het egter daarna teruggekeer Paarl toe en begin naam maak by Gardens, eers as slot voordat hy vir die Paarl Unie gekies is as flank. Dit was nie lank nie, toe word hy as 19-jarige opgeroep na die Federasie-span wat in 1976 teen die All Blacks gespeel het.

Hy vertel: “By die eerste lynstaan toe hoor ek hoe proes die All Blacks-manne soos hulle opgesweep was vir die game. Billy Bush, hulle hardekoejawel voorryman, was in ’n argument met een van ons manne.

“Ek wou toe ook vroeg my stempel afdruk en ek skop hom toe teen sy been en sê: ‘Billy don’t play shit, I’ll moer you!’ ” vertel hy terwyl hy skater van die lag.

Marinus sê hulle het alles op ’n skinkbord by die Federasie gekry en selfs soms R30 sakgeld.

“Daai tyd was R30 baie geld. Ek was gelukkig by Federasie, maar het meer en meer bewus geword van die situasie (apartheid) in die land. En toe Gardens in 1978 besluit om oor Saru toe te skuif op advies van my swaer Aubrey Minnaar, het ek saam getrek.”

Marinus se vrou vertel: “Ek en Randy en Pompies Williams (legendariese WP Liga-agsteman en kaptein) en sy vrou was beste vrinne. Ná die skuif Saru toe het daai vriendskappe verbrokkel.

“Gelukkig het ons jare daarna weer goeie vriende geword.”

Die oorgang was egter nie maklik nie.

“In een van my eerste wedstryde speel ek teen die WP Muslims en een van hulle voorspelers groet my deur te sê: ‘Sak, jou Federasie-vark, sak!’ ”

Marinus het egter daarna nooit weer teruggekyk nie en Boland en Saru met onderskeiding as flank en kaptein verteenwoordig tot met sy uittrede in 1986.

Hy beskou die eerste keer toe hy in 1983 as Saru-kaptein aangewys is, as een van sy grootste hoogtepunte.

Hy sê fiksheid was vir hom altyd ’n prioriteit en antie Juliet beaam: “Hy was versot op Rocky Balboa en het hom altyd nageboots. Eiers en melk het hy gelike en hy het douvoordag in wind en reën gaan draf. Ander dae het ek hom onder op Paarlberg met sy Ford Cortina Big 6 afgelaai en dan het hy boks-boks soos Rocky opgedraf tot by die bopunt.”

Oorwinning

“Ná my uittrede het ek besef dat ek die regte besluit geneem het deur Federasie te verlaat,” meen hierdie voormalige boiler maker.

Oor vandag se rugby sê hy: “Die laities speel anders as ons. Ek like die manier hoe die All Blacks speel, maar ek ondersteun hulle nie. Ek was bly toe hulle teen Engeland verloor het.

“Dit was great om te sien hoe die land juig oor die Bokke se oorwinning.

“Die All Blacks-ondersteuners sal moet bietjie dink oor die hoekoms en waaroms...”

MARINUS SE BESTE XV-TAL:

Ghalieb Hendricks, Desmond Booysen, Godfrey Simmons, Gabriel Noble, Martin Abrahams, Eddie Adams, Julian Smith, Clive Thomas, Nazeem Moerat, Johan Williams, Pieter Lourens, Piet Jooste, Gibba Davids, Banda Pietersen, Vleis Da­niels. BANK: Gary Boshoff, Nolan Claassen, Ishmael Badroen, Charles Januarie, Dawn Arendse.

JONG DAE: Marinus in die colours van sy geliefde Gardens.
FAMILIEMAN: Marinus met sy dogter, Hybré, sy vrou, Juliet, en seun, Arynn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters