15 dae gelede
‘Viper is giftig’
HOU HOM DOP: Athenkosi Plaatjies is vir groot dinge bestem.  ~ Foto Verskaf

AL HET hy nog nie ’n enkele vuishou in die beroepskryt geslaan nie, word hy reeds as ’n toekomstige wêreldkampioen beskou.

Dís die mening van die Kaapse promotor Jackie Brice­ oor die jong Uitenhager Athenkosi “The Viper” Plaatjies, wat op 27 November in die Vibrant-saal in Ottery sy debuut maak.

Brice raak absoluut liries oor dié Oos-Kapenaar.

“Ek sê jou vandag: Hierdie mannetjie gaan nog ’n wêreldkampioen word. Hy is giftig.

“Onthou maar gerus die naam. Oor twee of drie jaar gaan ons weer praat.

Goudmyn

“Hy is ’n briljante bokser met ’n ongelooflike amateur-rekord.

“Hy het Suid-Afrika verskeie kere verteenwoordig en sy stempel by twee All African Championships afgedruk,” sê hy.

Brice glo hy het hier in ’n goudmyn belê.

Plaatjies sal as ’n middelgewig deur die toue klim.

Hy word nie verniet as een van die kontinent se grootste vondste beskou nie en sal dus fyn dopgehou word.

Plaatjies se geveg is een van sewe kragmetings op Brice se program.

In die hoofgeveg van die aand kom Tian Fick van die Kaap en Josh Pretorius van Richardsbaai teen mekaar te staan om die vakante SA swaargewigtitel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters