13 dae gelede
Victor ‘gunsteling vir groot job’
NUWE KEURDERBAAS? Victor Mpitsang is glo die gunsteling.  ~ Gallo Images

DIE voormalige Vrystaat- en Protea-naatbouler Victor Mpitsang is glo in die binnebaan om Suid-Afrika se nuwe keurderbaas te word.

Die pos is vakant sedert Linda Zondi se kontrak ver­lede jaar ná die Proteas se rampspoedige Wêreldbeker-veldtog verstryk het.

Zondi het volgens Son se inligting aansoek gedoen vir die pos van sameroeper van die keurkomitee, maar het glo nie die kortlys gehaal nie.

Mpitsang, Hussein Manack en Patrick Moroney is Krieket Suid-Afrika (KSA) se kandi­date. Die pos sal voortaan voltyds wees en meer omvattend as ooit tevore.

Die nuwe keurderbaas sal steeds daarvoor verantwoordelik wees om saam met die nasionale keurders die Protea-spanne te kies.

Hy sal nou ook die Proteas se vroue-, o. 19-span en die SA A-span kies én in samewerking met Graeme­ Smith, KSA se direkteur van krieket, talent identifiseer.

Aansoek

Die 40-jarige Mpitsang het in 1999 as jongeling in twee ODI’s vir die Proteas gespeel en die Vrystaat (later die Knights) in meer as 100 eersterangse wedstryde verteenwoordig. Hy is sedert sy uittrede in 2012 in diens van die betaalkanaal SuperSport as analis en kommentator.

Hy het KSA ook in verskeie hoedanighede gedien. Hy was vroeër vanjaar die sameroeper van die keurkomitee wat die SA o. 19-span vir die Wêreldbeker gekies het.

Manack het naam gemaak as veelsydige speler vir die destydse Transvaal in die nie-rassige Suid-Afrikaanse Krieketraad. Hy is lank reeds as radio- en televisiekommen­tator by die SABC betrokke en hy het onlangs aansoek gedoen vir die pos as direkteur van krieket. Smith het hom om die posisie geklop.

Hy het egter nie veel van ’n kans gestaan nie.

KSA se nou afgedankte uitvoerende hoof, Thabang Moroe, het Smith geheadhunt nog voordat Jacques Faul, in sy hoedanigheid as waarnemende uitvoerende hoof, die proses gefinaliseer het.

Moroney word as ’n buiteperd beskou.

Onderhoude

Hy is glo deur Moroe geoormerk om by Zondi oor te neem, maar dit was voor eersgenoemde se skorsing en afdanking.

KSA het gister by monde van ’n woordvoerder laat hoor: “Onderhoude is eers verlede Vrydag gevoer, dus sal ons KSA se menslike-hulpbronne-proses moet volg.

“Daar is nog geen vas­gestelde datum vir die aankondiging nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters