10 dae gelede
Verreynne is optimisties
Kyle VerreynneFoto: GALLO IMAGES  ~ 

DAAR rus ’n groot verantwoordelikheid op ’n speler soos Kyle Verreynne om die Cape Cobras vanjaar te help om hul silwerware-droogte te breek.

Die Kaapse franchise se glaskas is sedert 2014 leeg en ná meer as twee seisoene onder die afrigting van Ashwell Prince lyk dinge maar donker.

Nadat die Cobras vroeër die maand uit die Momentum-eendag­reeks geboender is, begin hul T20-reeks Vrydag in Durban teen die Dolphins.

Al ses franchise-spanne ding mee om die kitstitel in ’n bubble in Durban. Hulle sal die eindstryd op 28 Februarie speel.

Die Wes-Kaapse streekspan het laas in 2014 die T20-reeks gewen.

Terugkeer

Verreynne is egter optimisties dat sy span vanjaar die droogte sal kan breek.

“Ek sien beslis uit na die reeks, veral oor ek nie veel speelkans in die nasionale span gehad het nie. Ek dink met van die senior spelers soos Janneman Malan wat sal terugkeer, staan ons ’n goeie kans om ons stempel in die reeks af te druk,” het Verreynne gesê.

Op 23-jarige ouderdom is Verreynne reeds een van die Cobras se staatmakers op wie Prince sal steun om die toernooi te wen.

Met die Cobras wat aan die einde van die seisoen nie meer sal bestaan nie omdat Krieket Suid-Afrika die franchise-sisteem skrap, sal dit teleurstellend wees as hulle nie die titel wen nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters