Verlede maand
Vasco wil die ‘Sneltrein’ stuit
GEREED: Vasco se kaptein, Jamie-Lee Witbooi, en Chelsea Daniels van Shosholoza mik na sukses.  ~ _JOE PILLAY

SPEL uit die boonste rakke word môre verwag wanneer die vrouesokkerspanne van Vasco da Gama en Shosholoza FC mekaar in die Coca-Cola Cup-eindstryd aandurf.

Die kragmeting vind op Erica Park in Belhar plaas.

Vasco da Gama het dié seisoen briljant vertoon en onder meer met die kam­pioen, UCT Ladies, asook die 2019-finalis, Spurs Ladies, afgereken.

Maar in Shosholoza kom Vasco te staan teen ’n span wat nie maklik die handdoek ingooi nie.

Astrid van Kesteren, voormalige doelwagter van Ba­nyana Banyana, is een van die ervare spelers in Shosholoza se span.

Volgens Van Kesteren besef sy en haar spanmaats hoe baie daar in dié wedstryd op die spel is en daarom gaan hulle alles in hul vermoë doen om sukses te behaal.

Vasco beskik oor uitstekende spelers wat die lewe behoorlik moeilik gaan maak vir Shosholoza.

Die span van Parow word deur die uitstekende Jamie-Lee Witbooi aangevoer.

Abigail Petersen, Alicia Terhart, Chantay Norris en Jessica Williams is almal spelers wat weet waar die doelhok sit en Van Kesteren kan ’n moeilike tyd tussen die pale verwag.

Vasco se spelers sal graag soos hul klublede in 2014 weer in dié kompetisie koning wil kraai.

Shosholoza het dié seisoen gewys dat wanneer sy sneltrein eers aan die loop gaan, hy gekeer wil word.

Halfeindronde

Die span van Bellville word deur Chelsea Daniels aangevoer en sy is ’n speler wat van voor lei.

Ander spelers van dié span wat deur Vasco dopgehou sal moet word, is Chelsea Petersen, Kelso Perskin en Caryn van Ryneveld.

Dié spelers het in die halfeindronde teen Dangerous Heroes met skitterende vertonings vorendag gekom om Shosholoza se plek in die eindstryd te verseker.

Prysgeld van R20 000 is op die spel, maar vir dié spelers, sal dit meer gaan oor die eer om dié gesogte beker omhoog te hou. En dan is daar natuurlik ook die spogregte.

Van Ryneveld het gesê sy en haar spanmaats sal as underdogs uitdraf, maar Vasco sal ’n groot fout begaan indien hy Shosholoza gaan onderskat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters