12 dae gelede
Uurglas loop nou leeg
nóg ’n keer ... Hashim Amla kyk hoe hy weer in die glippe uitgevang word.Foto: getty images  ~ 

13, 6 en 6 ... Só lees Ha­shim Amla se kolfver­tonings tot dusver vir die Suid-Afrikaanse krieketspan in die World Cup.

Sy mislukking gister is ook ’n carbon copy van die een wat hom die vorige keer laat terugstap het kleedkamer toe: Gevang in die glippe van ’n vurige naataflewering.

Die Proteas het darem nou een punt vir hulle draw teen die Wes-Indiese Eilande, danksy ’n wedstryd wat doodgereën het.

Daar word egter al lank gepraat oor Amla se tydsberekening en of hy die bal nog so goed kan sien.

Dis dalk tyd dat Amla permanent uit die span weggelaat word of iewers laer in die orde kolf.

Die uitgetrede Protea Albie Morkel voel daar word nog vasgeklou aan Amla omdat hy gewoonlik baie lopies kan aanteken.

Morkel het aan Cricinfo verduidelik: “Met sulke spelers is dit amper soos om ’n light switch aan te skakel: Een gelukkige grenshou en dan slaan hy weer baie lopies.

“Hy teken soms ’n goeie telling aan, maar hy is nie meer so bestendig nie.

“Hy sal lank onthou word as een van die beste kolwers in wêreldkrieket, maar hy sukkel nou al geruime tyd – ek dink dis nou al 18 maande.

“Hy speel nie soos die Hashim wat ons almal ken nie.”

Die logiese plaasvervanger vir Amla, Aiden Markram, was egter tot dusver self nie te kwaai met die kolf nie.

Markram, wat in JP Duminy se plek gespeel het, het gister net vyf lopies aangeteken voordat hy sy paaltjie weggesmyt het.

Hy het wel ’n nuttige 45 lopies teen Bangladesj aangeteken, maar is daarna vir Amla gedrop.

Die teenoorgestelde moet egter dalk nou gebeur wanneer die Proteas Saterdag teen Afganistan speel.

Markram moet die beurt saam met Quinton de Kock open.

In so ’n geval moet Duminy dan sy plek weer laer in die kolforde inneem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters