12 dae gelede
Usyk-sege goed vir Lerena
Kevin Lerena  ~ Foto Verskaf

OLEKSANDR Usyk se oorwinning onlangs oor An­thony Joshua om die nuwe swaargewigbokskampioen van die wêreld te word, is ’n bedekte seën vir Suid-Afrika se Kevin Lerena.

Usyk het lank die wêreld se tussengewigafdeling oorheers voordat hy na die swaargewigafdeling opgeskuif het.

Omdat hy die eerste keer om ’n swaargewigtitel geboks het en Joshua boonop die volslae gunsteling was, het min mense Usyk ’n kans gegee.

Rodney Berman, die Golden Gloves-promotor, het in sy voorspelling gesê hy glo ’n nederlaag vir Usyk sal hom laat afskuif na die nuutgestigte bridgerweight “waar sy pad dalk met Lerena s’n kan kruis”.

Usyk se oortuigende oorwinning oor Joshua het gewys dis dalk beter as hy en Lerena nie in dieselfde kryt beland nie.

Usyk is dus veel beter as wat baie kenners gemeen het.

Soos hy teen Joshua geboks het, sal hy hopeloos te sterk wees vir Lerena.

Intussen het Berman bekend gemaak dat Lerena dalk in Februarie na die kryt sal terugkeer.

Hy het sy hand tydens sy oefenkamp in Namibië beseer toe hy vir sy geveg teen Ryad Merhy op 17 Julie in Brussel voorberei het.

Lerena is nou reeds lank buite aksie.

Sy laaste geveg was op 19 Desember verlede jaar toe hy Patrick Ferguson by Empe­rors Palace aan die Oos-Rand met ’n TKO verslaan het.

As Lerena wel in Februarie boks, sal dit dus ’n volle 14 maande wees sedert hy laas in aksie was.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters