Verlede maand
United se kroon blink nie meer
Andy Cole  ~ Getty Image

MANCHESTER United het nie meer die vermoë om hoëprofielspelers na die klub te lok nie.

Só reken die Red Devils se voormalige striker Andy Cole.

Die 49-jarige Cole se gevolgtrekking spruit uit United se gesukkel om Borussia Dortmund se doelevraat Erling Haaland na Old Trafford te lok.

United is een van talle klubs in Europa wat in Haa­land se dienste belangstel.

Volgens Cole verkies top-spelers eerder om vir United se aartsvyand, Manchester City, uit te draf.

“Om hierdie ouens soos Haaland te lok, moet jy hulle met íets lok,” het Cole gesê.

“Jy moet probeer om hulle te lok met die moontlikheid om silwerware te wen of dat die span ’n jaar weg is van sukses. Hierdie ouens gaan ander opsies hê, moontlik Manchester City, Liverpool, Chelsea, Real Madrid of miskien Barcelona.

“As jy speel en tussen ál hierdie klubs kan kies, waar sou United op hierdie oomblik wees?

Eerlik

“Al hou ek van United, dink ek nie die klub kan nou net op sy naam ry nie, veral nie as jy hierdie spelers wil inbring nie.

“Dit is nie soos toe ek by United geteken het nie.”

Cole voeg by: “Ons moet eerlik wees, destyds wou almal soontoe gaan.

“Nou praat ons van 2021. Wil almal nóú United toe gaan? Ek is nie so seker daarvan nie.”

Die Red Devils is darem tweede op die Premierliga-punteleer met 50 punte, maar 12 agter die voorloper, Manchester City. AP

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters