7 dae gelede
Uniekheid verlore ...
Dean Furman  ~ Gallo Images

DEAN Furman (31) se “uniekheid” is beslis ’n groot verlies vir SuperSport United en Suid-Afrikaanse sokker.

Dít is die mening van sy Ma­tsatsantsa-spanmaat Clayton Daniels.

Daniels (35) se kommentaar volg nadat die voormalige Bafana Bafana-kaptein vanuit Engeland aangedui het hy gaan ná die geboorte van sy dogter oorsee aanbly.

Daniels dink Furman, wat meer as 50 wedstryde vir Bafana Bafana agter die rug het, het ’n “heel ander dimensie” na Suid-Afrikaanse sokker gebring.

Dié Kapenaar en boorling van Mitchells Plain het aan Son gesê: “Dis veral sy sterk mentality, tesame met professionaliteit, wat hom in my oë laat uitstaan.

“Ek dink dis ook sy uniekheid wat hom so anders en geliefd maak. Hy het nou dalk nie juis die beste skills nie, maar jy kan ver­seker wees dat hy sy lyf op die spel sit vir die span.

“Ons hier by SuperSport en in Suid-Afrika was blessed om ’n speler van sy kaliber te hê.”

Daniels en Furman het groot sukses geniet by die span van Tshwane. In hul vyf jaar in Gauteng het hulle twee MTN8-titels en twee Nedbank Cups verower.

Daniels vertel hy het in Furman meer as net ’n kaptein en spanmaat verloor.

“Hy het ook ’n fantastiese human side en die perspektief wat hy jou gee – op en van die veld af – word baie waardeer,” aldus Daniels.

“Hy is ook ’n great individu om in die kleedkamer te hê.

“Ek het die geleentheid gehad om sy familie te ontmoet.

“Jy kan sien waar Dean sy nederigheid vandaan kry.

“Ek weet ook hy sal groei met sy sokker waar hy ook al in die toekoms sy loopbaan gaan voortsit.

“Hopelik kan ons mekaar in die toekoms weer in die tonnel kry en hande skud.

“Suid-Afrika gaan beslis ’n speler van Dean se kaliber mis,” voeg Daniels by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters