5 dae gelede
Undertaker wil in vrede rus
undertaker
The Undertaker by Wrestlemania 33.  ~ WWE

DIE WWE-legende, The Undertaker, se soeke na die perfekte oomblik om uit te tree is al wat hom ná 30 jaar nog in die kryt laat klim.

The Undertaker is nie meer voltyds deel van die WWE nie, maar kom so nou en dan terug vir groot gevegte tot groot vermaak van sy jarelange aanhangers.

Sy legendariese wenstreep by Wrestlemania, waar hy vir 21 gevegte onoorwonne was, was vir baie jare 'n groot trekpleister.

Maar op 55-jarige ouderdom is dié boorling van Houston, Texas nie meer vandag se kind nie. Die beserings wat hy oor die jare opgedoen het, het hom ingehaal. Die voorbereiding vir gevegte en die herstelproses daarna raak al moeiliker.

Mark Calaway, 'n pa van vier en die man agter die karakter, dink nou al 'n geruime tyd daaraan om uit te tree. Die perfekte oomblik ontwyk hom egter steeds.

Die Deadman praat openhartig in die dokumentêr, Undertaker: The Last Ride, oor sy gesukkel om weg te stap en om ná uittrede in vrede te gaan rus.

Calaway het in 1990 vir die eerste keer die swart jas en die hoed aangetrek. Dié kanniedood is jare later nog die laaste van sy era wat nog in die kryt doenig is. Ander groot name soos Shawn Michaels, Stone Cold Steve Austin en Bret Hart het lankal uitgetree.

The Undertaker
The Undertaker in die kryt, besig om voor te berei vir 'n geveg. Foto: WWE

Son het die geleentheid gekry om die derde episode van The Last Ride te kyk. Daarin vertel Calaway van die kere toe hy naby gekom het om uit te tree.

Toe hy by Wrestlemania 33 teen Roman Reigns vir slegs die tweede keer aan die verloorkant van 'n geveg by WWE se grootse jaarlikse show was, het hy sy hoed en jas in die kryt agtergelaat. Vir baie was dit 'n teken dat hy klaar was. 

Calaway was egter ontevrede met sy performance en het die volgende jaar weer teruggekeer.

Sy geveg met John Cena by Wrestlemania 34 sou ook sy laaste wees, maar Calaway was ongelukkig met die lengte daarvan.

Calaway erken hoe hy Shawn Michaels beny vir die manier hoe hy sy loopbaan by Wrestlemania XXVI afgesluit het.

"Hy kon wegstap en was tevrede. Wens ek dat ek daardie duidelikheid gehad het? Absoluut. Hy het daardie duidelikheid gehad voor die geveg en hopelik wanneer ek myne kry waarvoor ek soek, dat ek ook daardie duidelikheid sal het om te weet dat dit verby is."

Ander se gevoel:

Michelle McCool, sy vrou en 'n voormalige vrouekampioen: "Ná 30 jaar wil jy wegstap met iets wat net reg voel. Ek dink ná die Wrestlemania, waar hy sy jas en hoed in die kryt agtergelaat het, kon dit die einde gewees het, maar hy was nie gereed nie. So, ek dink nie enigiets gaan perfek pas totdat hy emosioneel en geestelik genesing kry nie."

Mick Foley: "Dit is moeilik om aan 'n storieboek-einde te dink vir dié ongelooflike karakter, maar ek glo daar gaan 'n tyd kom wanneer hy gaan weet dit is tyd om te groet en ons sal verstaan dat ons die laaste van 'n ware fenomeen gesien het."

Edge: "Ek wil hê dit moet reg verloop vir hom, om daardie regte oomblik te kry. Ek hoop regtig hy kry dit en wanneer hy doen, dat hy weet om dit aan te gryp en uiteindelik die deur agter hom toe te maak."

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters