5 dae gelede
Uitgedunde WP leen Ziyaad by The Rocks
Ziyaad Abrahams  ~ Gallo Images

DIE Westelike Provinsie se reeds uitgedunde krieketspan het verdere slegte nuus ontvang toe dit bekend geword het dat die linkerhandse naatbouler Nandré Burger vir minstens 12 weke met ’n rugbesering buite aksie gaan wees.

Staatmakers soos Kyle Verreynne, Beuran Hendricks en Tony de Zorzi doen tans diens vir die SA A-span en is nie vir die Kapenaars beskikbaar nie.

Boonop is Zubayr Hamza, Wayne Parnell, Verreynne en George Linde in die Proteas se ODI-groep vir hul reeks teen Nederland wat môre begin.

Afwesigheid

Die WP speel van vandag af teen die Warriors in ’n wegwedstryd op St. George’s Park in Gqerberha in KSA se vierdag-kompetisie.

Yaseen Vallie gaan die span in Hamza se afwesigheid aanvoer. Daniel Smith gaan in Verreynne se plek agter die paaltjies diens doen.

Liyema Waqu, ’n hotklou-naatbouler, kan dalk sy eersterangse debuut in die afwesigheid van Parnell en Burger maak.

’n Aanduiding van hoe erg die WP se diepte getoets is, is die feit dat hulle Ziyaad Abrahams by die Rocks moes gaan leen vir die stryd.

Salieg Nackerdien, die WP-afrigter, het egter ook ’n brokkie goeie nuus ontvang. Die middelkolwer David Bedingham is terug van ’n besering en sal die WP se kolfaanslag lei.

DIE WP-SPAN IS: Yaseen Vallie (kaptein), Aviwe Mgijima, Basheer Walters, Bonga Makaka, Daniel Smith, David Bedingham, Gavin Kaplan, Jonathan Bird, Kieran Kenny, Kyle Simmonds, Liyema Waqu, Yves Kamanzi, Ziyaad Abrahams.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters