3 dae gelede
Udubs sal wil verras teen Maties in Varsity Cup
Mikyle Vraagom  ~ Varsity Cup

’N KAAPSE derby in die hartjie van Pretoria.

Dít is wat hom vandag in die Jakarandastad afspeel wanneer die rugbyspanne van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en Stellenbosch (US) mekaar in ’n Varsity Cup-wedstryd die stryd aansê.

Albei is nog segeloos in vanjaar se toernooi nadat ­Maties Maandag verrassend teen Ikeys verloor het.

Die UWK, daarenteen, het in sy wedstryd teen die Shimlas met 28 elk gelykop geëindig.

Maties se pak voorspelers,veral sy ­vaste vyf, sal waarskynlik hard probeer om Udubs voorlangs te oordonder, terwyl die manne van Bellville glad nie in ’n geveg voorlangs sal belangstel nie.

Hul sterk punt is eerder agterlangs, waar hul ­angels is. Branden de Kock (skrumskakel) en sy skakelmaat, Mikyle Vraagom, het Maandag gewys hulle kan domineer as hulle die kans gegun word.

Vraagom was veral in sy debuut ­indrukwekkend. ’n Mens sal na verwagting in die toekoms nog baie van hom hoor. Dis onseker of die Stormers-senter, Lyle Hendricks, beseer is, aangesien hy Maandag in die rustyd vervang is.

Skokke

Sy sentermaat, Aydon Topley, het ook skaflik ­vertoon, maar Udubs se ­angels is definitief die agterste driehoek bestaande uit André Manuel, Lundi Msenge (vleuels) en die heelagter, Gilroy Philander.

Indien UWK dit regkry om voorlangs met Maties vir ’n groot gedeelte van die wedstryd te kompeteer en Vraagom hulle in die regte gebiede laat speel, kan daar net dalk een van die grootste skokke in die geskiedenis van die toernooi in die kaarte wees.

Ervare manne soos Justin Theys (stut), Jacques van Zyl (haker) en die slotte Pieter-Steyl Swanepoel en Jaen-Louis de Lange sal voorlangs moet verseker dat UWK in die vaste fasette kompeteer. Hul los-trio sal ook moet lak dat dit klap en die Stellenbossers sodoende onder druk plaas.

Die wedstryd skop om 14:00 af.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters