10 dae gelede
UCT kou klippe op greens
dawood salieFoto: JOE PILLAY  ~ 

DAWOOD Salie, afrigter van die sokkerspan Manenberg Ladies, is in sy noppies met sy girls.

Tog verwag Salie nie juis baie van die meisies nie – net dat hulle ’n positiewe impak maak en in goeie burgers omskep word.

Salie is ook oortuig sy span het die eienskappe om diep spore te trap in Safa se Wes-Kaapse Vroueligakompetisie.

Die onselfsugtige coach glo vas meisies in Manenberg is goed genoeg om eendag vir Banyana Banyana uit te draf.

Salie-hulle het Sondag op die Greens-sportveld in Manenberg die besoekende UCT Ladies laat les opsê.

Dit was voorwaar ’n riller van ’n stryd.

Manenberg het UCT, die meer invloedryke teenstander, met 3-2 verras.

Die voormalige beroepsokkerspeler Kamaal Sait rig UCT Ladies af.

Die span het in vorige wedstryde puik gespeel, maar teen Manenberg het die vroue taamlik gesukkel om hulle ritme te vind.

Earon Isaacs se solo strike het die besoekers teen rustyd ’n voorsprong van 1-0 gegee.

Chantel-lee Carelse het die tuisspan in die prentjie gehou.

Sy het ná die pouse die gelykmaker aangeteken.

Dié doel het Manenberg Ladies aangevuur om aanval ná aanval te loods in ’n stryd wat wipplank gery het.

Getrek

Isaacs se tweede doel het UCT se neus weer voor gesit.

Maar Manenberg se hardnekkige houding en veggees het vir die tuisspan die wa deur die drif getrek.

Dit was net hulle vyfde sege in 22 wedstryde. Die span het op die oomblik 18 punte en beklee die 13de plek op die punteleer.

UCT het nou afgeskuif tot die vierde posisie. Ná 22 wedstryde het die span 50 punte.

Vasco da Gama is steeds die voorloper.

Ná 22 kragmetings spog die span met 57 punte. Dít kom nadat Vasco da Gama Lidz FC oortuigend met 4-0 geklop het.

Spurs Ladies het ná 21 wedstryde 53 punte en is tans tweede. Dangerous Heroes behou die derde plek. Die span het 51 punte.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters