8 dae gelede
‘Tuisveld’ nie faktor, glo Diego
Diego Simeone  ~ Getty Images

DIEGO Simeone, manager van Atlético Madrid, reken die feit dat die span se tuisveld verskuif is, sal hom nie verhoed om vandag teen Chelsea ’n positiewe uitslag te behaal nie.

Weens die corona-virus-beperkings is die Cham­pions League se eerste been van die ronde van die laaste 16 spanne verskuif vanaf Atlético se tuiste, Wanda Metropolitano, na die Arena Na?ionala in Boekarest.

Dit beteken Simeone en sy troepe verloor watter ook al voordeel hulle sou geniet het.

Boonop dink Simeone Atlético sou sake op sy tuisveld kon reggestel het.

Die span het Saterdag in ’n La Liga-stryd teen Levante ’n skoknederlaag van 0-2 gely.

Spoke

“Dit sou die ideaal gewees het om ’n gedugte span soos Chelsea op ons tuisveld te pak,” gee Simeone toe.

“Ons het onafgehandelde sake.

“Ons moet ons spoke van die vorige stryd bêre.

“Maar dit is steeds nie ’n faktor of ’n verskoning dat ons nie ’n goeie uitslag kan behaal nie.

“Ons moet eenvoudig ’n positiewe uitslag kry,” glo die manager.

Dit is egter makliker gesê as gedaan.

Die Argentynse manager gaan sonder drie van sy regulars moet klaarkom.

José María Giménez se besering tydens die stryd teen Levante het nóg sout in hul wonde gesmeer.

Héctor Herrera en Kieran Trippier is ook nog op die krukkelys. AP

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters