5 dae gelede
Tuchel loof onsigbare werk ná sege
Thomas Tuchel  ~ Getty Images

THOMAS Tuchel het Chelsea se “onsigbare werk” geloof nadat die Blues Juventus Dinsdagaand met 4-0 kafgedraf het.

Die voorloper in die Engelse Premierliga is nou weer goed in beheer in groep H van die Europese Cham­pions League.

Chelsea het Massimiliano Allegri (bestuurder) se 11-tal van Juventus heeltemal oordonder.

Die Old Lady van Serie A het absoluut geen antwoord gehad op die tuisspan se skitterende spel nie. En dít selfs sonder die beseerde striker Romelu Lukaku.

Derde

Die Blues het nou ál vyf hul tuiswedstryde in die Champions League gewen.

Tuchel se span het verlede seisoen dié titel verower. Dié Duitser mik ook na ’n derde Champions League-eindstryd agtereenvolgens nadat hy twee seisoene gelede ook met PSG in die finaal was.

Sy span het toe teen Bayern Munich vasgeval.

Dit was die eerste keer dat Juventus so ’n groot pak slae in die kompetisie gekry het.

“Ons was skerper as wat ons in Turyn was en ons het ook meer kanse gewaag,” het Tuchel gesê.

“Die spelers is bewus hulle moet veg vir ’n plek in die span. Jy kan sien hoe hartseer hulle lyk wanneer hulle nie in die uitsoekgroep is nie.

“Dit is die onsigbare werk wat hulle insit wat bydra tot die puik vertonings. Dít is bewys teen Juventus,” het hy bygevoeg.

Die enigste negatiewe faset is die besering van Ben Chilwell en N’Golo Kanté voor Sondag se stryd teen Manchester United. AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters