Verlede maand
Troefkaart: Damian en Handré saam, glo Stewart
KENNER: Christian Stewart het in sy speeldae vir die Bokke en Kanada in die middelveld uitgedraf.Foto: ADNAAN MOHAMED  ~ 

DAMIAN Willemse en Handré Pollard saam in een span kan die Springbokke se groot troefkaart wees.

Volgens Christian Stewart, ’n voormalige senter van die Westelike Provinsie en die Spingbokke, móét Willemse en Pollard vanjaar reeds op losskakel en binnesenter in die Kampioenskapsreeks vir die Bokke ingespan word

Stewart het in sy speeldae met groot welslae in die nr. 12 en nr. 10-trui vir die Streeptruie uitgedraf.

Die 52-jarige boorling van Toronto in Kanada werk deesdae as ’n eiendomsontwikkelaar in die Moederstad.

In 1998 het hy in drie toetste vir Suid-Afrika uitgedraf. Hy het ook vir Kanada by die Wêreldbekertoernooie in 1991 en 1995 verteenwoordig.

Stewart glo as Willemse in Nieu-Seeland of Australië gebore is, sou hy reeds in hul nasionale spanne gewees het.

Foto: GALLO IMAGES
TWEE GENERAALS: Damian Willemse en Han- dré Pollard (inlas) kan saam ingespan word.Foto’s: Gallo Images
Foto: GALLO IMAGES

Hy het gister in ’n eksklusiewe onderhoud aan Son gesê: “Hy (Willemse) is ’n besonderse talent wat net een keer in ’n leeftyd kom. Daar moet plek in die span vir hom gevind word.

“Ek sal beslis vir hom en Pollard saam in dieselfde span kies. Dit maak nie saak watter nommer hulle dra nie.”

Rassie Erasmus het met ’n nuwe trant as breier gekom toe hy destyds met die gekleurde liggies op die dak van die Vrystaatse-stadion gesit het.

“Ek glo hy kan weer ’n nuwe trant in wêreldrugby begin waar die Bokke voortaan met twee losskakels speel.

“Dié twee spelers kan hul spel afwissel deur op verskillende tye op die verdediging en die aanval in die nr. 10-kanaal te staan.

“Hulle altwee bring besonderse vaardighede wat die opposisie heeltemal onkant sal vang.

“Ek is oortuig daarvan dat dit ’n gulde geleentheid sal wees – veral voor volgende jaar se WB-toernooi – om te sien hoe dié twee in die Kampioenskapsreeks saam kan speel.

“As hulle reeds nou Nieu-Seeland en Australië met dié twee in die nr. 10- en nr. 12-trui kan klop, sal dit by die World Cup ook kan gebeur.” Die Bokke kom Saterdag teen Argentinië op Kingspark in Durban te staan.

Volg Adnaan Mohamed op Twitter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters