10 maande gelede
Trane rol by reünie
LEGENDES: Agter is: John Triskey (stut), John Vergotini (vleuel), Ivor Myburgh (heelagter), Allan Alexander (haker), Laban Cupido (skrumskakel), Anwell Newman (losskakel), Stephan Adonis (stut), Angus Lewis (vleuel), Jannie Pietersen (vleuel). Voor: Leanard Wentzel (skrumskakel/ losskakel), Silvin Isaacs (losskakel), Francois Davids (flank/ kaptein), Cupido Cupido (afrigter), Trevor Adams (flank), Ivan Jacobs (senter), Aidan Stowman (slot) en Thurston Joseph (stut).  ~ Mark Ward

DIE sukses van 1988 se Boland-rugbyspan, wat die SA Beker gewen het, moet aangewend word om positiewe veranderinge in gemeenskappe te help teweegbring.

Dié geskiedkundige sportgebeurtenis het 32 jaar ge­lede in die Athlone-stadion plaasgevind toe die Bolanders die Westelike Provinsiespan van Fagmie Solomons met 9-6 geklop het.

Daar het by dié uitgelese groep se onlangse reünie van twee dae by Club Mykonos aan die Weskus soms trane gerol. Daar is ook talle staaltjies gedeel, veral oor toe die bus wat die span na die final moes vervoer, op pad onklaar geraak het.

Ivan Jacobs, voorsitter van die 1988-komitee, vertel: “Ons was kalm. Van ons ondersteuners wat op pad na die final was, het ons sommer opgelaai en na die stadion geneem. Maar soos die rekordboek staan, het ons as oorwinnaars uit die taai stryd getree.”

Die manne het hul kommer uitgespreek oor die verval in gemeenskappe waar dwelmmisbruik, bendegeweld en geweld teen vroue en kinders verwoesting saai.

Aidan Stowman, speaker van die Drakenstein-munisipaliteit en kranige slot, sê dit het tyd geword om die sukses van 1988 in iets positiefs te omskep.

“Ons moet self ons storie aan gemeenskappe gaan vertel. Nou is dit tyd dat ons gemeenskappe met trots binnevaar. Ons het ’n mooi storie om te vertel.”

Ploeg

Stowman is daartoe verbind om ’n museum op die “Kraal” in die Paarl op te rig.

“Vir dit moet ons sportmanne, maar veral die 1988-groep, saamstaan. Ons het ’n verantwoordelikheid en dit is om terug te ploeg.

“Te veel kinders neem deel aan onverantwoordelike gedrag,” sê Stowman.

Francois Davids, destydse kaptein, het sy spanmaats aangemoedig om by veral kerk- en geestelike organisasies betrokke te raak.

“Manne, ek is vandag waar ek is, deur die sukses van die 1988-span. So, ek sal alles in die stryd werp om te help waar ek kan.

“Ons almal benodig mekaar. Ons moet help waar ons kan.”

Angus Lewis (vleuel), vertel hy is as 17-jarige matriekleerling opgeroep om in die eindstryd te speel.

“Ek het nog vir my matriekeksamens voorberei toe ek uit die klas geroep is om van my insluiting ingelig te word. Ek het in daai stadium net vir die Boland B-span gespeel.

“Ek is ingesluit in die plek van Jannie Pietersen (gebreekte neus) en ek moes oorkant die great Bernard “BA” Adams van die WP speel. Die res is geskiedenis.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters