13 dae gelede
Tottenham Hotspur bly wen onder José
UITBLINKER: Dele Alli speel weer van sy beste sokker sedert José Mourinho as Spurs manager oorgeneem het.  ~ Reuters

TOTTENHAM Hotspur spog nou met drie oorwinnings in alle kompetisies sedert José Mourinho die septer as manager begin swaai het.

Spurs het Saterdag voor sy tuisskare met 3-2 oor Bournemouth geseëvier.

Vroeër dié week het Spurs ook sy Champions League game teen Olympiacos in die Tottenham Hotspur Stadion met 4-2 gewen.

Dit pla Mourinho egter dat hulle soveel doele afstaan.

In sy perskonferensie ná die sege oor Bournemouth het hy ’n filosofiese verduideliking daarvoor gegee.

Die selfgedoopte Special One het gesê: “Daar is baie dinge wat my gelukkig maak in vandag se vertoning. Daar is wel ander aspekte wat verbeter moet word.

“Ons het weer nie goed begin nie, ons het nie goed afgerond nie. Ons het wel vir lang tye in die game goed gespeel.

“Ek is bly oor die oorwinning, die punte, die flair, die doele, die dynamics en sekere goed wat ons op die verdediging begin doen het.

Uitdaging

“Ek kan hier sit en sê ons het nou wel vier doele in twee games afgestaan, maar ek wil dit eintlik anders benader deur te sê ons het nou sewe doele in twee wedstryde op ons tuisveld aangeteken.”

Spurs se volgende uitdaging is om Mourinho se voormalige klub Manchester United in die Engelse Premier­liga te probeer klop.

Mourinho en sy span kom Woensdag op Old Trafford teen die Red Devils te staan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters