13 dae gelede
Topspelers sal aanbly
Zelt Marais.  ~ Mark Ward

EBRAHIM Rasool, voorsitter van die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU), sê die unie gaan eers volgende maand meer in diepte met die Amerikaanse konsortium MVM Holdings onderhandel.

Rasool en Zelt Marais, die WPRVU se president, het die media gister virtueel toegespreek ná die bedanking van twee borgdirekteure uit die direksie van Western Province Professional Rugby (Edms) Bpk.

Marais het ook bevestig dat die spelers, insluitende hoëprofielspelers soos Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit, Steven Kitshoff en ander lede van die seëvierende Springbokspan wat die Wêreldbeker laas jaar gewen het, se jobs veilig is.

“Ons kan julle die versekering gee dat ons ons topspelers sal behou. Ons hoop van harte dat hulle nie beserings opdoen nie,” het Marais gesê.

“Daar is voldoende kontantvloei vir die kort- en mediumtermyn. Ons het voortdurend vergaderings met ons moederliggaam, SA Rugby en selfs World Rugby. Ons stel maatreëls in plek. As ’n tweede golf van Covid kom, gaan dit ’n uitdaging wees, maar ons kan jou verseker dat ons voldoende kontantvloei het om ons daaglikse uitgawes te dek.”

Die MVM-konsortium en die Suid-Afrikaans gebore Marco Masotti, wat vanuit New York ’n leidende rol in die onderhandelinge speel, toon die laaste paar maande groot belangstelling om ’n beherende belang in WP Rugby se sakevleuel te koop.

Die Yanks het glo ’n aanbod van $6 miljoen (sowat R100 miljoen) gemaak om in WP Rugby te belê – $4 miljoen in die sakevleuel en $2 miljoen in die unie se amateurarm.

Marais het dit egter laat blyk dat WP nie gretig is om MVM ’n beherende aandeel in die unie te gee nie.

“Ons moet elke aandelevennoot hersien om te sien watse verskil elkeen kan maak en (dan) moet ons die beste een kies.

Verantwoordelik

“Ons bedryfshoof het al by vele geleenthede gesê daar is geen kritieke haas om ’n besluit te maak nie.

“Ons moet baie verantwoordelik wees in terme van waarnatoe ons gaan en wat ons gaan doen. Ons is gretig om in ’n gesamentlike vennootskap in te gaan waar ons gesamentlike besluite kan maak.

“Ons kan nie dat die een die ander beheer nie. Dis nie hoe ’n huwelik werk nie. ’n Huwelik gaan oor konsensus,” meen Marais.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters