4 dae gelede
Tom soek tweede titel in Kaap
kaap is lekker: Tom Mitchell, kaptein van Engeland, sien uit na nog ’n fantastiese toernooi hier. Foto: jonathan lestrade  ~ 

DIE persepsie dat Engeland die Blitsbokke se bogey­ team in sewesrugby is, is glad nie waar nie.

“Nee, ons probeer maar net in elke wedstryd seker maak ons bring ons beste wanneer ons teen hulle speel,” sê die Rose se kaptein, Tom Mitchell.

Hy en sy Engelse spanmaats het die Blitsbokke laas week lelik verneder in ’n kwarteindstryd van die Wêreldreeks se Dubai-toernooi.

Engeland het ook twee keer dié jaar die Blitsbokke in belangrike toernooie omgedop.

Uitgeskakel

Dít was in die Statebondspele se uitspeelwedstryd vir die bronsmedalje en toe in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi.

In 2016 se Olimpiese Spele het die Engelse – in hul gewaad­ as Groot-Brittanje – ook Neil Powell (afrigter) se span uitgeskakel vir ’n plek in die eindstryd.

Powell het ook al vorige kere gesê as daar een span is teen wie hulle graag meer aan die wenkant wil wees, is dit die Rose.

Maar die Blitse het ook hul fair share van belangrike oorwinnings oor Engeland oor die afgelope­ jaar behaal.

Mitchell onthou nog goed hoe Suid-Afrika hulle in die eindstryd van die Frank­ryk-toernooi geklop het om die Wêreldreeks­titel vir die 2017-’18-seisoen te wen.

“Ons weet goed dat as jy ’n span soos die Blitsbokke wil wen, moet jy op jou beste wees,” het Mitchell aan Son verduidelik.

“Ons het hulle nou al so ’n paar keer omgedop, maar jy kan hulle nooit onderskat nie.”

Mitchell en die Rose is op soek na hul tweede Kaapse titel. Hulle het die Blitsbokke in 2016 op verrassende wyse voor ’n stampvol Kaapstad-stadion geklop.

“Ek sien nogal uit na die kans om hier in die Kaap weer teen hulle te speel.

“Hulle gaan oorgehaal wees om goed te doen voor hulle fantastiese tuisskare.

“Dit is nog ’n geleentheid vir ons om te bewys hoe ’n kwaliteitspan ons is. Kaapstad is ’n fantastiese plek om te kom rugby speel en ons geniet die atmosfeer en wil dit tot ons voordeel gebruik.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters