12 dae gelede
Toetskaptein straks aangekondig
Graeme Smith  ~ Gallo Images

KRIEKET Suid-Afrika (KSA) kan straks eersdaags sy nuwe toetskaptein aankondig.

Graeme Smith, Suid-Afrika se suksesvolste kaptein en deesdae KSA se direkteur van krieket, het aan Son bevestig KSA is in die proses om die beste kandidaat te vind.

“Ons is besig om ’n besluit oor hierdie onderwerp te neem en wil binnekort ’n aankondiging daaroor doen,” het Smith via ’n KSA-woordvoerder op Son se navrae reageer.

Faf du Plessis het vroeër vanjaar die tuig as toetskaptein neergelê nadat sy span op tuisbodem ’n toetsreeks teen die Engelse toerspan met 1-3 verloor het.

Quinton de Kock is SA se kaptein in eendag- en T20-wedstryde, maar dis al bekend dat die keur­paneel hom nie as toetskaptein óók oorweeg nie.

De Kock is deesdae die span se beste kolwer. Die feit dat hy ook die rol van paaltjiewagter vervul, maak dat sy werk­lading reeds hoog is en dit kan dalk baie moeilik wees om te bestuur as hy kaptein, paaltjiewagter en boonop die voorste kolwer moet wees.

Dean Elgar, Aiden Markram en Temba Bavuma word as die top-kandidate beskou. Elgar neem waarskynlik die voortou.

Onthul

Rassie van der Dussen is ook nog ’n buiteperd. Elgar is die mees ervare van die kandidate. Hy het die Proteas al in toetskrieket gelei en is tans in die plaaslike vierdagreeks goed op dreef met die kolf.

Daarenteen het nie Markram, Bavuma óf Van der Dussen al ’n vyftigtal in die reeks aangeteken nie.

Dis te betwyfel of die keurders iemand sal kies om die span te lei wat nie self ’n seker keuse in die 11-tal is nie.

Smith het ook aan Son die paneel onthul wat verantwoordelik sal wees vir die kies van die toetskaptein en waarskynlik die span ook. Dié paneel bestaan uit Victor Mpitsang (sameroeper van die keur­komitee), Graeme Smith (direkteur van krieket), Mark Boucher (hoofafrigter van die Proteas) en Enoch Nkwe (hulpafrigter van die Proteas).

Die onafhanklike keurder moet nog aangestel word, maar die proses duur volgens KSA voort.

Die Proteas speel hul eerste toets van die 2020-’21-seisoen op 26 Desember in Centurion teen Sri-Lanka.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters