12 dae gelede
Toeskouers weer toegelaat by rugby-games
Jurie Roux  ~ Gallo Images

DÍT is vir rugby die broodnodige lig aan die einde van die tonnel.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van SA Rugby (Saru), het gister dié stelling in ’n verklaring gemaak. Saru maak daarin bekend dat ondersteuners wat volledig ingeënt is, voort­aan toegelaat gaan word om na rugbywedstryde vir volwassenes terug te keer.

Saru het die nuus met al sy unies gedeel. Ondersteuners wat ingeënt is, sal toegelaat word om terug te keer na klub- en beroepsrugbywedstryde.

Dit sal plaasvind binne die perke wat die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, vroeër vandeesweek aangekondig het.

Die algemene gesondheidsriglyne sal ook in ag geneem word.

’n Maksimum van 2 000 toeskouers sal toegelaat word om games by te woon.

Dié syfer sal egter nie van toepassing op skolerugbywedstryde wees nie omdat skole onder die beheer van die departement van basiese onderwys is.

Verbind

Saru sal riglyne verskaf om te help met die bestuur en uitvoering van die toegangsprotokolle om ’n veilige terugkeer­ van ondersteuners te verseker.

Saru het hom daartoe verbind om die regering se inentingsveldtog te ondersteun.

Roux sê die beheerliggaam steun die regering se strewe om massa-inentings te versnel en sodoende die samelewing in staat te stel om na normaal terug te keer.

Saru sal ook verseker dat rugby nie die oorsaak van verdere verspreiding van die virus is nie.

“Dit is baie goeie nuus en die eerste stap om terug te keer en wedstryde uit te verkoop,” het Roux gesê.

“Dit is 19 maande sedert ’n ondersteuner laas in ’n rugbystadion toegelaat is. Dit is die lig aan die einde van die tonnel wat ons sport broodnodig het.”

Ná die begin van die inperking in Maart 2020, sal die Carling Cup-kragmeting met Kenia op 6 November op Loftus Versfeld in Pretoria waarskynlik die eerste senior professionele rugbywedstryd in SA wees waar ondersteuners toegelaat sal word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters