4 maande gelede
Toer dalk só gered
Jurie Roux  ~ Gallo Images

AUSTRALIË het aangebied om gasheer te speel vir die Britse en Ierse Leeus-toer van Suid-Afrika.

Hamish McLennan, grootbaas van Rugby Australië (RA), het dié aankondiging Sondag gedoen terwyl die toer weens die Covid-19-pandemie nog in die weegskaal is.

Die Britse Leeus is geskeduleer om van 3 Julie tot 7 Augustus agt wedstryde in Suid-Afrika te speel. Dit sluit drie toetse teen die Springbokke in.

Brittanje en Suid-Afrika gaan egter nog swaar gebuk onder die corona-virus.

McLennan, grootbaas van Rugby Australië, sê die Britse Leeus en Suid-Afrika is welkom om hul toer Doer Onder te beslis.

Australië was tot dusver redelik suksesvol in sy pogings om Covid-19 te bekamp en het die Drienasiesreeks in November en Desember aangebied nadat die Bokke hulle aan die Rugby Championship onttrek het.

“Ek het ’n paar weke gelede met Jurie Roux, SA Rugby se uitvoerende hoof, gesels en aangebied dat ons die toer hier aanbied,” het McLennan gesê.

“Ons het met die Drienasies-reeks bewys die Australiese regering kan sportlui veilig na die land laat reis en afsonder.

“Die aanbod is goed ontvang en RA het sedertdien kontak gemaak met ander belanghebbendes in die toer.

“Dit sal eintlik goed werk, want daar is talle voormalige Britte en Suid-Afrikaners wat hier woon, so ons sal die stadions kan vul.

Geld

“Hulle mag dalk kies om iewers anders heen te gaan, maar die aanbod staan.”

RA sal verwag om sy onkoste te dek, maar alle wins bo en behalwe dit sal deur Suid-Afrika en die Leeus gedeel word.

“Ons doen dit nie om geld te maak nie,” sê McLennan.

Die Leeus het in 2013 in Australië getoer en die reeks met 2-1 beklink.

Hul volgende toer Doer Onder is vir 2025 geskeduleer. – Reuters

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters