12 dae gelede
Toe te slow
Kevin Slow  ~ Gallo Images

DIE Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) het dalk genoegsame bewyse om ’n hooggeregshofsaak teen ’n ontevrede Park-rugbyklub te wen.

Park het besluit om hom nou tot die hooggeregshof te wend nadat sy appèl teen die OPRU misluk het.

Beskuldiging

Die klub het beswaar gemaak teen die OPRU se besluit om die Superliga-eindstryd te kanselleer en aan Progress die titel te gee.

’n Beskuldiging is teen Park gebring dat hy ’n ongeregistreerde speler, Kevin Slow, in sy span het en is dus van die eindstryd gediskwalifiseer.

Park ontken die bewering. Daar is egter gister aan Son bewyse verskaf dat Slow wel nie die reg gehad het om vir Park te speel nie.

Luidens bewyse het Slow op 3 Julie Port Elizabeth en Park verlaat om in twee wedstryde vir die Limpopo Blue Bulls te gaan speel.

Slow en Park het ook aansoek gedoen by die OPRU vir sy provinsiale vrystelling om in ’n ander provinsie te gaan speel.

Slow het op 16 Augustus egter weer Baai toe gekom – een dag nadat die OPRU se vensterperiode vir die registrasie van klubspelers gesluit het.

Luidens die bewyse het Park op Saterdag 17 Augustus die speler laat herregistreer, maar dit was toe reeds te laat.

Die onafhanklike voorsitter, Irvine Armoed, sê klagtes van dié aard deur OP-klubs is al so oud soos die berge.

Hy sê die saak is nie ’n teken van swak administrasie nie, maar eerder om rugby van die veld af te wen.

Armoed was nie heeltemal eensydig in sy opsomming van die appèlverhoor nie.

Hy sê dit was in die eerste plek nie ’n wyse besluit om adv. Willie Blunden as voorsitter van toekomstige dissiplinêre komitees aan te stel nie – dit weens sy direkte en indirekte verhouding met sekere klubs.

Armoed bevraagteken ook waarom adv. Hendry Pietersen by ’n vorige geleentheid as voorsitter die enigste lid van die komitee was wat besware moes aanhoor terwyl daar drie lede moes gewees het.

Belaglik

Armoed sê Park se saak het geen meriete gehad nie en die OPRU “het redelik en regverdig in die belang van rugby in die streek opgetree”.

Park se komiteelid, adv. Eric Streso, sê om die eindstryd af te skaf “in die belang van rugby” is belaglik.

“Die OPRU se aanhoudende uitstel van verrigtinge het ’n maand of selfs langer geduur.

“Die unie is die hoofrede waarom die eindstryd nie kon plaasvind nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters