4 dae gelede
Tinkler 'n 'ou stinkler'
te biesag: Eric Tinkler wou glo by Chippa sommer oral sy neus indruk.Foto: gallo images  ~ 

ERIC Tinkler is gefire omdat hy ’n manager wou wees.

Maar niemand, behalwe seker Tinkler self, huil juis lang trane omdat hy gefire is nie.

Son verneem betroubaar talle Chippa-spelers het niks van Tinkler gehou nie.

’n Ingeligte na aan die span het verklap dat van die spelers selfs wou paartie toe hulle hoor Tinkler is gefire.

“Dit was oorwegend die reaksie toe die nuus deurkom dat Tinkler nie meer die afrigter is nie. Dit was eintlik baie onprofessioneel van die spelers,” is aan Son gesê.

Van Chippa se spelers was dus swak gemotiveer. ’n Mens kan selfs bespiegel hulle het doelbewus swakker gespeel omdat hulle nie die breier se styl of oefenmetodes gelike het nie.

Tinkler was kwalik daar, toe vat hy die kapteinskap van Mark Mayambela af weg.

Dis glo een van die eerste redes waarom hy nie die spelers se gunsteling was nie.

Son kan ook bevestig Tinkler se oefenmetodes het baie anders en intensiewer gelyk as sy voorgangers s’n.

Daar is ook gerugte dat Tinkler méér as net die span se voorbereiding wou behartig. Dit was glo vir sommige spelers onaanvaarbaar.

Afgegaan

“Tinkler wou vlugte en verblyf reël, en baie ander dinge rondom die span doen.

“Dit het nie goed afgegaan by van Chippa se administrateurs nie,” sê Son se informant.

Met Tinkler uit die pad kan verwag word dat Chippa met hernude ywer sal speel wanneer hy Cape Town City volgende week in die Athlone-stadion pak.

Chippa kan dalk uiteindelik die agterkant van die net vind en selfs die wedstryd wen.

Cape Town City behoort dus glad nie oorgerus te wees nie. ’n Groot aanslag word van Chippa verwag.

  • Intussen verneem Son ook Peter Koutroulis, Chippa se hoofbedryfsbeampte, is op spesiale verlof oor die Tinkler-debakel. Die klub wou nie sê of hy ook gefire is nie.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters