3 dae gelede
Timoteus inspireer
Anthony Timoteus  ~ David Papenfus

ANTHONY Timoteus wil kinders inspireer, veral in Stilwaneysingel in Bell­ville-Suid, waar hy grootgeword het.

Die talentvolle 25-jarige atleet is tans in sy laaste jaar as student aan die Universiteit van Wes-Kaapland waar hy sy B.Ed-graad in opvoedkunde voltooi.

“Ek wil graag jong meisies en seuns in die gemeenskap inspireer sodat hulle weet almal kan suksesvol wees as hulle net in hulself glo en hard werk,” sê Timoteus.

“Ek is baie trots op waar ek vandaan kom. Ek wil vir almal wys dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie, maar eerder waarna jy strewe.”

In 2013 het Timoteus matriek gedruip, maar hy het nie toegelaat dat dit hom onderkry nie. Toe frustrasie en die versoeking om moed op te gee sy tol begin eis, het hy steun en aanmoediging van sy afrigter, Glen Bentley, gekry.

Hierdie vennootskap het gehelp om ’n verskuiwing in elke aspek van Timoteus se lewe te maak.

“Anthony het sy vasberadenheid en deursettingsvermoë gewys toe hy besluit het om sy matriek­eksamen oor te skryf. Ná sy derde probeerslag het hy uiteindelik sukses behaal,” onthou Bentley.

Dieselfde karaktereienskappe wat hom sukses met sy studies gebring het, het hom ook tot dusver as atleet van internasionale gehalte uitgesonder.

Hy het Suid-Afrika reeds vier keer in sy loopbaan verteenwoordig.

Die doelwit van die atleet van die Nedbank-atletiekklub is om vir die Olimpiese Spele in Tokio in die 5 000 m vir mans te kwalifiseer.

“Ja, ek wil so na as moontlik aan die kwalifiserende vereistes vir die Spele kom. As ek dít kan vermag, sal dit beslis ’n groot bonus vir my wees.”

Die kwalifiserende vereistes in die 5 000 m vir mans is 13:11 (A-standaard) en 13:22 (B-standaard). Sy persoonlike beste tyd is tans 13:49, wat hy laas Maandag op Coetzenburg in Stellenbosch opgestel het.

“Ek is tans in die beste shape van my lewe. Elke race wat ek onlangs gehardloop het, was persoonlike beste tye. Tans berei ek my voor vir die SA nasionale byeenkoms wat van 16 tot 18 April in Pretoria gaan plaasvind.”

Sy plan is daarna om in Europa te gaan deelneem, wat hom sal help met die kwalifiserende vereistes vir die Spele.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters