7 dae gelede
Tietjens nie meer coach van Samoa
Gordon Tietjens  ~ Getty Images

SIR Gordon Tietjens, die voormalige Nieu-Seelandse sewesafrigter, het besluit om van sy rol as Samoa se sewesbreier weg te stap.

Tietjens gaan nie sy kontrak hernu wat in Augustus verstryk nie.

Hy glo die beste oplossing vorentoe sal wees om Samoa toe te laat om vir die toekoms te beplan.

Hy het aan RNZ gesê: “Met die uitstel van die Olimpiese Spele en vier toernooie van die 2019-2020-reeks wat waarskynlik gekanselleer sal word, voel ek die tyd is reg om nou uit te tree, sodat hulle ’n nuwe hoofafrigter kan soek.”

Tietjens se besluit kom ná besprekings met Vincent Fepulea’i, uitvoerende hoof van die Samoa-rugbyunie.

Pionier

Tietjens het oor meer as twee dekades fenomenale sukses met die Nieu-Seelandse sewesspan gehad.

Hy word as die pionier van Nieu-Seeland se hoogs suksesvolle sewesprogram beskou. Hy was 22 jaar aan die stuur van die All Blacks se sewesspan.

Hy’t die All Blacks-pos gelos nadat die span in 2016 in ’n teleurstellende vyfde plek by die Olimpiese Spele in Rio geëindig het.

’n Maand later is hy aangewys as Samoa se sewes-hoofafrigter nadat Kenia ook in sy dienste belanggestel het.

Hy’t op 1 Januarie 2017 die rol as Samoa se sewesbreier oorgeneem.

Tietjens sê dit was ’n “eer en voorreg” om meer as drie jaar in beheer van Samoa se sewesspan te wees. Hy word wêreldwyd as ’n ikoon van die spel van sewesrugby beskou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters