7 dae gelede
Tian verdedig titel in Pretoria
DIE CHAMP: TIan Fick sit sy titel op die spel.  ~ Verskaf

SUID-AFRIKA se swaargewigkampioen, Tian Fick, gaan op 6 November “huis toe” om sy titel in Pretoria te verdedig.

Fick, ’n oud-Pretorianer en gewese Blou Bul-slot, kom dan teen Luke Sutherland by die Pretoria Square Casino te staan.

“Ek en Luke is tydgenote en het albei in 2017 beroepsboksers geword. Daarom dink ek hy verdien die kans om vir die titel te boks.

Lyntjie

“Ons moet egter nog die kontrak teken,” sê Fick.

Hy sê voorts hy gaan sy titel net die een keer ver­dedig.

Vir Fick was dit ’n uiters frustrerende jaar.

“Ja, Andriy Rudenko van die Oekraïne het my sewe maande aan ’n lyntjie gehou.

“Ons sou op 11 April teen mekaar geboks het, maar hy het op die nippertjie Covid-19 opgedoen en moes hom dus aan die geveg onttrek.

“En toe ons drie maande later weer in die kryt moes klim, het hy hom om mediese redes onttrek.”

Kennisgewing

Hy is hierna ’n geveg teen een van die groter name in wêreldboks aangebied, maar ook dit het deur die mat geval.

“Ek kan nie die bokser se naam onthou nie, maar die geveg is op baie kort kennisgewing aangebied kort nadat ek van my wittebrood teruggekom het en sonder voorbereiding.

“Ek het die fight toe aanvaar, maar kon nie betyds ’n visum kry nie.”

Fick sal ná die titelgeveg oor sy loopbaan vorentoe besluit. Hy kan dalk nog een of twee oorsese gevegte kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters