4 dae gelede
Tian pak Josh in Kaap
WARM OP: Tian Fick verdwerg sy hulpafrigter, Dominic Ferreira (links), en afrigter, Matthew Leisching.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE Kaapse swaargewigbokser Tian Fick kan vanjaar nog om die Suid-Afrikaanse titel boks.

Só sê sy afrigter, Matthew Leisching.

Die enigste voorwaarde is dat Fick op 16 Junie met Josh “Red Beast” Pretorius afreken wanneer hulle mekaar in die Sunningdale-sportkompleks in Milnerton pak.

Dis ’n uitdungeveg vir die SA titel. Die wenner sal die kans kry om die SA kam­pioen uit te daag.

Ingestel

Die huidige kampioen, Ruann Visser, verdedig sy titel binnekort teen Justice Siliga.

Fick se visier is reeds lank gelede op Visser ingestel.

Fick (35) is ná ses gevegte onoorwonne.

Hy het vier van sy teenstanders met uitklophoue verslaan.

Pretorius (25) het vyf van sy ag gevegte gewen.

Hy het vier teenstanders uitgeslaan en in Maart net-net met punte teen Siliga verloor.

Leisching sê wat Fick se voorbereiding betref, verloop alles vlot.

“Ons oefen twee keer per dag van Maandag tot Saterdag en skerm drie keer ’n week.

“Ek is ook baie beïndruk met die werk wat ons conditioning coach, Jordy de Roos, doen. Tian lyk werklik in topkondisie. Hy lyk slaggereed vir sy eerste geveg oor ag rondes.”

Leisching het Kapenaars gevra om Fick in groot getalle te kom ondersteun.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters