5 maande gelede
Tian in nuwe stal
nuwe coach: Die afrigter Matt Leisching (tweede van regs) glo groot sukses wag vanjaar op sy stal. Van links is Jordy Roos (kondisioneringsafrigter), Aiden Quinn, Tian Fick en Dominic Ferreira (hulpafrigter).FOTO VERSKAF  ~ 

DIE Kaapse swaargewigbokser Tian Fick word voortaan deur Matt Leisching afgerig.

Die voormalige Blou Bul-speler het sy bande met Rob Fenyes verbreek op pad na ’n moontlike Suid-Afrikaanse titelgeveg in die middel van die jaar.

“Ja, Tian is nou in my kamp,” het Leisching gesê.

Hy het bygevoeg hulle berei voor vir ’n SA titelgeveg later vanjaar.

“Alles hang af van wat binnekort in die kampioen Ruann Visser se geveg gebeur. Ons sal dan kyk hoe sake staan.

“Op die oomblik verloop alles egter volgens plan,” sê hy.

Leisching sê hy het tans 12 boksers in sy stal, van wie 6 professioneel is.

Debuut

“Op die oomblik het ek die grootste stal in die Kaap. Ek glo egter ons gaan nóg groter word die volgende paar maande.”

Een van die belowendste jong boksers in die stal, Aiden Quinn, maak in Maart sy debuut in die geldkryt.

Fenyes het gesê hy wens Fick alles van die beste toe vir die toekoms.

Hy sê hy gaan nou weer konsentreer op sy loopbaan as beampte.

“Ja, ek wil kyk hoe ver ek as beampte kan vorder.

“Dit was maar altyd die plan,” sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters