13 dae gelede
Tete veg te lank laas
AI TOG! Die einde van Zolani Tete nadat John Riel Casimero gou met hom klaargespeel het.  ~ Reuters

ZOLANI Tete se bestuurspan is steeds geskok oor sy nederlaag Saterdagaand teen John Riel Casimero in Birmingham.

Tete het met dié nederlaag sy WBO-kapokgewigtitel afgestaan.

Casimero het hom in die derde ronde drie keer platgeslaan voordat die skeidsregter hom uitgetel het.

Tete se bestuurder, Mla Tengimfene, het aan The Sowetan gesê sy kamp weet steeds nie hoe dit gebeur het nie.

Hospitaal

“Maar baie geluk aan Casimero.”

Hy sê voorts Tete is hospitaal toe vir waarneming, maar hy is okay en terug in sy hotel­kamer.

Casimero was van meet af aan aanvallend. Hy het hard en akkuraat geslaan.

Tete het nooit op sy gemak gelyk nie en dit was gou duidelik dat Casimero voor was op punte.

Tete het stadig begin en sy houe het flouerig gelyk.

Die nederlaag was Tete se 4de in 32 gevegte, terwyl die Filippyn nou 29 van sy 34 gevegte gewen het.

Voor Saterdagaand was Tete op 13 Oktober verlede jaar laas in die kryt.

Verroes

In sommige kringe is die vrees uitgespreek dat hy dalk verroes kon wees.

En verroes was Tete inderdaad, al het hy voor die geveg self gesê hy sal beslis nie verroes in die kryt klim nie.

Daar moet egter gevra word waarom Tete, wat twee jaar gelede as Suid-Afrika se bokser van die jaar aangewys is, so lank uit die kryt was.

Wêreldkampioene van sy kaliber behoort meer gereeld in aksie te wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters