Verlede maand
Terugslag vir Lions
Hacjivah Dayimani  ~ Gallo Images

DIE Lions het gister ’n groot terugslag beleef met die nuus dat twee van hul spelers weens beserings buite aksie gaan wees.

Hacjivah Dayimani, wat losvoorspeler en senter kan speel, sowel as EW Viljoen, wat vanjaar as heelagter vir die Lions uitgedraf het, gaan sake onderskeidelik vir drie maande en ses weke van die kantlyn af moet dophou.

Die Lions het gister bevestig Viljoen het Saterdag in die kragmeting met Griekwas ’n graad 2-skeur aan sy dyspier opgedoen.

Dié veelsydige agterspeler sal vir ongeveer vier tot ses weke nie kan speel nie.

Dayimani sal minstens drie maande uit wees. Dit beteken hy gaan die res van die Curriebeker-seisoen misloop.

Dayimani het laas week ’n knieoperasie ondergaan om kraakbeen te herstel.

Vir Viljoen sal die nuus van sy besering veral teleurstellend wees, aangesien hy graag teen sy ou spanmaats van die Westelike Provinsie wou speel.

Die Lions kom nou Sater­dag op Ellispark in ’n Curriebeker-kragmeting teen die Streeptruie te staan.

Met Viljoen buite aksie het Ivan “Cash” van Rooyen (af­rigter) die opsie om op die knoppies van groentjies soos Tiaan Swanepoel en Divan Rossouw te druk om die laaste vesting te beman.

Swanepoel is ’n Namibiër van geboorte wat voorheen vir die Maties, die Westelike Provinsie se o. 21-span en West Harbour in Australië uitgedraf het.

Skuif

Die 24-jarige Swanepoel het sy Curriebeker-debuut gemaak toe hy as plaasvervanger in Viljoen se plek in die wedstryd teen Griekwas aangewend is.

Van Rooyen kan dit moontlik ook oorweeg om vir Courtnall Skosan na die heelagter-posisie te skuif.

Dié Springbok-vleuel het al voorheen die nr. 15-trui vir die Rooibontes gedra.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters