13 dae gelede
Terugslag vir Lavis-sokker
MENS-Mens: Johannes Lewis was ’n vaderfiguur vir ’n groot aantal kinders in die gemeenskap.  ~ Foto: Tarryn- Leigh Solomons/Tyger burger

BISHOP Lavis se plaas­like sokkerklub en ondersteuners is in rou ná die dood van hul voorsitter, Johannes Lewis, hierdie week.

Die voormalige skoolhoof van die Laerskool Belhar het ná 43 jaar in Maart afgetree. Lewis is op 16 Desember positief getoets vir Covid-19.

Hy was die afgelope drie weke in die hospitaal.

Garamy Lewis beskryf sy pa as ’n mens-mens, iemand wat ’n vaderfiguur in baie kinders se lewe was.

“Nét so ’n groot verlies soos wat my pa se dood vir ons as familie is, is dit vir dié wat hom geken het.

“Ons sal nie weet in watter mate dit almal raak nie, maar uit die boodskappe wat ons van so baie ontvang, weet ons dit is ’n groot verlies.

“Hy het ook ’n positiewe invloed gehad op nie net die lewens van baie spelers nie, maar ook jong mense in die gemeenskap.”

Ashley Jacobs, tesourier van die klub, sê Lewis se heengaan is ’n onbeskryflike verlies.

“So lank was die klub en die gemeenskap altyd sy belangrikste prioriteit. Selfs met talle uitdagings het hy nooit tou opgegooi nie. Hy was ’n leier en ikoon.”

Omstandighede

Die sokkerspeler Clayton Daniels sê: “As dit nie vir Lewis was nie, was ek vasgevang in gangsterism en dwelms.”

Hy noem hoe Lewis hulle vir sokkerwedstryde sou ontmoet en hulle dan die hele dag op die sokkerveld sou deurbring.

“Hy het seker gemaak hy ontmoet ons. Hy het geweet ons is van die flêtse en hoe moeilik van ons se omstandighede was en vir sommige steeds is, maar hy het steeds ’n weg vir ons gemaak.”

Die Safa-president in Kaapstad, Bennett Bailey, het ook sy medelye betuig.

“Ons verloor een van ons staatmakers in sport en hy laat ’n groot leemte,” sê Bailey.

Garamy voeg by: “Met Covid-19 en lockdown was my pa bekommerd dat kinders nie aan sport kan deelneem nie. As hy hulle op die veld kry, het hy altyd vir hulle gesê om nooit op te hou oefen nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters