3 maande gelede
Temba, Dean lei Protea-span
NUWE ERA: Temba Bavuma en Dean Elgar is nou die Protea- kapteins.  ~ Gallo Images

’N NUWE era het vir die Proteas aangebreek nadat Temba Bavuma en Dean Elgar gister as onderskeidelik witbal- en toetskaptein van die nasionale krieketspan aangewys is.

Quinton de Kock se laste word nou aansienlik ligter en nou kan die talentvolle paaltjiewagter net op sy kolfwerk en paaltjiewagterskap konsentreer.

Bavuma het die afgelope twee weke beïndruk met sy leierskap in die plaaslike T20-Uitdaagreeks, waar hy die Lions tot die titel gelei het. In 2018 het hy ook dié Gautengse franchise tot die eerste Mzansi Superliga-titel in 2018 aangevoer, sowel as in die meerdaagse reeks.

Sy gemiddeldes en treftempos in ODI’s (55.,83 en 92,28) en T20I’s (35,57 en 133,15) is baie goed, al is dit dalk ietwat misleidend omdat hy nog net 6 ODI’s en 8 T20I’s gespeel het.

Droom

Hy is ’n kalm leier en al is hy klein in statuur, het die spelers hoë agting vir hom. Bavuma sal die Proteas in 2021 en 2022 se ICC T20-Wêreldbekers, sowel as die Wêreldbeker in 2023 lei. Elgar neem die leisels oor in die volgende siklus van die ICC Wêreldtoetskampioenskapsreeks.

“Om die Proteas te lei is al jare lank ’n droom van my, soos die naaste aan my sal weet,” het Bavuma gesê.

“Dis een van die grootste eerbewyse in my lewe tot dusver en ek sien uit daarna om aan te hou waar Quinny (de Kock) opgehou het om die span in die nuwe kultuur te lei wat ons ontwikkel het en waaraan ons aanhou werk.

“Ek neem die verantwoordelikheid om my land aan te voer nie ligtelik op nie en ek sien uit na hierdie nuwe uitdaging en reis saam met Dean in die toetskrieketformaat, sowel as om die span te lei na nie net een nie, maar drie ICC Wêreldbekers in die baie nabye toekoms.”

Elgar het Aiden Markram, Bavuma, Rassie van der Dussen en Keshav Maharaj uitgestof om die toetskapteinskap. Hy is iemand wat van voor lei en ’n vegter wat ook ’n staatmaker met die kolf geword het.

Toppunt

Hy sê: “Ek het nog altyd gesê om jou land as kaptein in enige vorm van die spel aan te voer, is die grootste eer wat ’n speler kan ontvang.

“Om kaptein te wees van my land se toetsspan, wat volgens my die toppunt van die spel is, is die grootste hoogtepunt in my loopbaan.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters