2 maande gelede
Tekkies verseker stout sege
nathan nkutu
Nathan Nkutu  ~ Christiaan Kotze

ENIGE span wat 23 strafskoppe afstaan, ’n speler ná ’n rooikaart verloor en dan nóg twee spelers weens geelkaarte vir 10 minute verloor, moet sekerlik ’n rugbywedstryd verloor?

Wel, die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT) het Maandagaand sekerlik die rekordboek herskryf as die span met die swakste dissipline wat steeds ’n wedstryd wen.

Dit was toe die Tekkies op Loftus Versfeld hul openingswedstryd van die Varsity Shield teen die Fort Hare-universiteit van Alice in die Oos-Kaap met 36-20 gewen het.

Dit was nie die pragtigste rugby nie, maar die Tekkies, dié kompetisie se verdedigende kampioene, het gewys hul agterlyn is vanjaar weer gevaarlik met Lunathi Nxele wat twee pragdrieë afgerond het. Die linkervleuel, Nathan Nkutu, was met sy krag ook ’n handvol vir die Fort Hare-verdedigers.

Daar kan egter harde woorde van die afrigtingspan verwag word oor die aantal strafskoppe wat deur CPUT afgestaan is en veral die onnodige rooikaart wat al voor die einde van die eerste helfte ’n einde aan die binnesenter, Jurick Lewis, se wedstryd gebring het.

Lewis het die Fort Hare-heelagter, Brandt Fields, met ’n stywe arm in die gesig gestamp.

Gelukkig vir die Tekkies werk die Varsity Cup en Shield se reëls anders as dit kom by die afstuur van ’n speler met ’n rooikaart. Hulle kon ná 15 minute weer voltallig word toe Lewis deur Christopher Andrews vervang is.

In die tyd dat die Tekkies boonop ’n speler minder op die veld gehad het, het hulle hul derde drie van die wedstryd gaan druk om teen die rustyd met 21-10 voor te loop.

’n Vierde vyfpunter vroeg in die tweede helfte en ’n suksesvolle strafdoelpoging het in ’n stadium die Tekkies met 29-13 die voortou gegee.

Toe gaan druk Fort Hare teen die verwagting hul tweede drie. Kort daarna is die Tekkies tot 13 manne beperk toe Ameer Hendricks en Hugan Engelbrecht vir 10 minute van die veld gestuur is.

Fort Hare kon egter nie dié voordeel benut nie. CPUT verdien egter krediet vir goeie verdediging in daardie tydperk.

Kort voor die einde het Nkutu, wat as die Player That Rocks aangewys is, die Tekkies se vyfde drie gaan druk om verdere sout in Fort Hare se wonde te smeer.

In Maandag se eerste wedstryd het die Walter Sisulu-Universiteit – beter bekend as die All Blacks – die Shield-nuweling, die Durban-Universiteit vir Tegnologie, ’n nare verwelkoming gegee deur met 136-11 te wen. Dis die grootste loesing nóg in Varsity Shield-rugby.

Die Universiteit van KwaZulu-Natal was op sy beurt met 62-15 baas oor die Rhodes-Universiteit van Makhanda (Grahamstad).

puntemakers

CPUT – driee: Sesona Macala, Lunathi Nxele (2), Butsha Mputa, Nathan Nkutu; doelskoppe: Feghon-Leigh Snyders (3), Imibongo Vabaza; strafdoel: Snyders

FORT HARE – driee: Lukhanyiso Tosholwana, Daniel Caku-caku; doelskoppe: Brandt Fields (2), strafdoele: Fields (2)

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters