2 maande gelede
Tekkies trap Rhodes in VS
CPUT
PUNTE! CPUT se Joshua Paris druk sy drie.  ~ Varsity Cup

DIE rugbyspan van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT) het gister sy dissipline opgeknap en uiteindelik verspot maklik met die Rhodes-Universiteit in ’n Varsity Shield-stryd afgereken.

Die Kapenaars, wat ook die verdedigende kampioene is, is onoorwonne nadat hulle gister met 68-8 gewen het.

Die senter Bjorkan Hendricks en die vleuel Asisipho Malotana het albei 2 van die Tekkies se 10 drieë gedruk.

Die Kapenaars het hul oorheersing van veral die skrums gou in punte omskep toe Hendricks (buitesenter) vroeg oorgebars het vir ’n drie.

Die twee spanne is kort daarna egter van die veld af beveel nadat weerlig in die omgewing geslaan het.

Rhodes het ná die on­beplande breek vir ’n rukkie gebiedsvoordeel geniet en is beloon toe sy invloedryke linkervleuel, James Royle, gaan druk het nadat hy ’n vinnige tikskoppie geneem het.

Joshua Paris, die Tekkies se groot slot, het ’n volle 50 m genael nadat hy ’n bal op die middellyn onderskep en gaan druk het sonder dat ’n hand op hom gelê is.

Hendricks het kort voor lemoentyd sy tweede drie gaan druk ná goeie hanteerwerk deur die losskakel Imibongo Vabaza, wat as speler van die wedstryd aangewys is.

Die sluise het ná rustyd behoorlik oopgegaan en die Tekkies het vir die volle duur van die tweede helfte alle aspekte van die spel oorheers.

Durbaniete

Hul pak voorspelers het die besoekers se pak oorrompel met die flank, Ché Klaasen, wat vermelding verdien vir sy inklimspel.

In die agterlyn het Hendricks en Malotana baljaar, terwyl Nathan Nkutu (die plaas­vervanger-vleuel) ook weer beïndruk het met sy kraglopies.

CPUT kom Sondag teen die Durbanse Universiteit vir Tegnologie te staan en behoort heel maklik met die Durbaniete af te reken.

Puntemakers:

CPUTdrieë: Bjorkan Hendricks (2), Joshua Paris, Onika Mgijima, Hugan Engel­brecht, Asisipho Malotana (2), Phumlani Mkhaliphi, Imibongo Vabaza, Bu­tsha Mputa; doelskoppe: Vaba­za (9).

RHODES-UNIVERSITEITdrie: James Royle; strafdoel: Royle.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters