28 dae gelede
Tekkies trap DUT
STERT INNIE LuG: Jurick Lewis druk gister een van sy drieë op skouspelagtige wyse.  ~ Varsity Cup

DIE rugbyspan van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT) is steeds onoorwonne in die Varsity Shield (VS).

CPUT het gister sy derde wedstryd in dié kompetisie teen die Durban-Universiteit vir Tegnologie (DUT) met ’n enorme 109-6 gewen.

Die Tekkies het vanuit die staanspoor oorheers en DUT se gebrekkige verdediging ontbloot.

Met die rustyd was CPUT reeds 55-3 voor nadat hy reeds 9 drieë in die eerste helfte gedruk het.

Die haker Siya­sanga Ngubelanga het reeds in die eerste helfte ’n driekuns aan drieë gedruk en kort ná die rustyd sy vierde gedruk.

Ommesientjie

Die Kapenaars het egter daarna hul ritme effens verloor en oorgretigheid het tot hanteerfoute gelei.

Butsha Mputa, flank en kaptein van die Tekkies, het dit egter in ’n ommesientjie reggestel deur ’n driekuns binne die bestek van 5 minute te druk. Mputa het in die proses CPUT se voorste driedrukker in die geskiedenis van VS geword.

Die Durbaniete het sommige van die skrums gewen, maar die reuse-gaping tussen die twee spanne was net te groot.

Die onervare DUT speel in sy eerste VS en het nou reeds twee honderdtalle afgestaan.

CPUT verdien egter lof vir die feit dat hy vir groot gedeeltes van die wedstryd by sy strukture gehou het.

Agterlyn

Benewens Ngubelanga en Mputa het die groot slot Ameer Hendricks en die flank Roland van den Heever uitgeblink.

In die agterlyn was die skakelpaar van Hugan Engelbrecht en Feghon-Leigh Snyders ook vol planne.

Jurick Lewis (binnesenter) was ook ’n uitblinker, terwyl Imibongo Vabaza (reserwelosskakel) en Nathan Nkutu (reserwesenter) ook ’n groot impak gemaak het toe hulle opgekom het.

CPUT gaan egter nie veel tyd hê om op sy louere te rus nie, aangesien hy reeds môre sy volgende wedstryd, dié een teen die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT), moet aanpak.

Puntemakers:

CPUT – drieë: Siyasanga Ngubelanga (4), Butsha Mputa (3), Jurick Lewis (2), Roland van den Heever (2), Damian Isaacs, Asisipho Malotana, Nathan Nkutu, Hugan Engelbrecht, Tauriq Gamieldien, Lucien Phillips; doelskoppe: Feghon-Leigh Snyders (5), Imibongo Vabaza (7).

TUT: strafdoel: Nelson Mhlongo; skepdoel: Mhlongo.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters