13 dae gelede
Tekkies hardloop weg met Impi
Lunathi Nxele  ~ Varsity Cup

DIE CPUT-rugbyspan het gisteraand in Pretoria sy segetog in die Varsity Shield voortgesit en UKZN met 53-12 kafgedraf.

Die Tekkies is die huidige houers van die skild en dit wil voorkom asof hulle geen planne het om daarvan afskeid te neem nie. Hulle is steeds onoorwonne ná vyf wedstryde in die toernooi.

Hoewel hulle aanvanklik weer in die skrums gesukkel het, het hulle in dié kompetisie geen gelyke wat aanvallende spel betref nie.

Asisipho Malotana, die Tekkies se linkervleuel, het in die tweede minuut gaan druk. Malotana is egter 10 minute later na die koelkas gestuur ná ’n opsetlike aanslaan.

Wandile Shabangu, die Impi se buitesenter en kaptein, het kort daarna in die regterhoekie gaan druk, waar Malotana veronderstel was om te wees. Dit was egter die Natallers se laaste punte van die eerste helfte.

Die Kapenaars het ’n paar keer gemoonwalk in die skrums maar was oudergewoonte baie aanvallend en het by tye sprankelende rugby gespeel.

Verdere drieë het die Tekkies met die rustyd gemaklik met 22-5 laat voorloop. UKZN het egter onmiddellik ná lemoentyd teruggeslaan toe Menzi Mabaso deurgebars het vir ’n drie. Nxele is in die proses ook met ’n geelkaart van die veld af gestuur nadat hy ontevrede met die skeidsregter was.

Drieë deur Engelbrecht, Hendricks en Van Boven was die laaste spykers in die Impi se doodskis. Nxele is as die speler van die wedstryd aangewys.

CPUTdrieë: Malotana, Nxele, Mputu, Coenraad, Engelbrecht, Hendricks, Van Boven; doelskoppe: Snyders, Vabaza.

UKZN drieë: Shabangu, Mabaso; doelskop: Novuka.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters