9 dae gelede
‘Taaie wag’
opgewonde: Nolusindiso Booi is lus vir Wallis.Foto: gallo images  ~ 

DIE Springbok-vrouerugbyspan se kaptein, Nolusindiso Booi, het gister gesê dit gaan moeilik wees om Wallis Sater­dag op Cardiff Arms Park te stuit.

Booi, wat ook Grens se kaptein is, sê egter die spelers­ sien uit na hul eerste toets op toer.

Opgewonde

Suid-Afrika sal nóg twee toetse speel. Eers teen Spanje­ in Villajoyosa op 17 November en dan teen Italië in Prato op 25 November.

Booi sê: “Die spelers is opgewonde oor die toets Sater­dag teen Wallis.

“Ons is gretig om te bou op die strukture waaraan ons die afgelope week begin werk het teen die Britse weermagspan.”

Sy sê die span het aspekte wat hy moet verbeter, uitgesonder en is vasbeslote om dit op dié toer reg te stel.

Booi sê: “Ons staan beslis voor ’n uitdaging teen Wallis.

“Ons twyfel geensins dat hulle ons met ’n baie fisieke aanslag sal tref nie.

“Hulle pak voorspelers is groot en sterk, en hulle het meer ervare spelers as ons. Ons sal dus beslis beproef word.”

Dié groep spelers, sê Booi, is egter ’n moedige lot wat gereed is om Wallis te trotseer.

Sy sê: “Die spelers is lus om weer op internasionale vlak te speel. So, ons is gereed vir die uitdaging.”

  • Die span se afrigter, Stanley Raubenheimer, maak sy span môre­ bekend.

Die toets skop 13:30 (SA tyd) af. – Saru

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters