Verlede maand
Taai tye vir Steve
VAL AAN: Kristopher Bergman in aksie vir Stellenbosch FC.  ~ Gallo Images

STEVE Barker en sy Stellenbosch FC-sokkerspan kon nie vir ’n moeiliker taak gevra het om weer in die Suid-Afrikaanse Premierliga (PSL) op die wenpad te kom nie.

Dié Stellies-breier moes Woensdag in die Danie­ Craven-stadion toekyk hoe sy span met 2-3 teen Ba­roka FC vasval.

Maklik

Hierdie nederlaag be­teken dat Stellies se top-agt-ambisies skipbreuk gely het, maar daar is hoop vir ’n terugkeer.

Maklik gaan dit egter nie wees nie, want die span van die Eikestad kom te staan teen ’n Kaizer Chiefs-span wat uiteindelik weer weet hoe om sokkerwedstryde te wen.

Amakhosi het nou drie PSL-wedstryde agtereenvolgens gewen en pryk ewe skielik onder die top-agt-klubs (sewende) op die punteleer.

Stellies se nederlaag teen Baroka was Barker-hulle se eerste sedert 15 Desember se Wes-Kaapse derby teen Cape Town City­.

’n Mens kan egter nie sê niemand het ’n nederlaag vir Barker se span gesien kom nie.

Voor Woensdag se teleurstelling moes Stellies hard veg om gelykop uitslae teen Bloemfontein Celtic (1-1), Black Leopards (1-1) en Maritzburg United (2-2) af te dwing.

’n Oorwinning met 2-0 oor die sukkelende PSL-nuweling Tshakhuma Tsha Madzivhandila (TTM) FC is die enigste gunstige uitslag waarmee Stellies in hul laaste vyf wedstryde kan spog.

Barker se span is egter bekend vir sy veggees sedert hy verlede seisoen sy debuut in die PSL gemaak het.

Chiefs, wat deur die ervare Gavin Hunt afgerig word, sal dus nie die tuisspan kan onderskat nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters